Trou Idees

Alles oor Liefdestale

Die Noodsaaklikheid Van ‘n Voller Hart:

Die Vyf Liefdestale is iets wat ons al almal van gehoor het, maar verstaan ons werklik wat dit behels en wat ons en ons sielsgenote se liefdestaal is?

“You can never understand one language,

until you understand at least two.”

– Geoffrey Williams

Hierdie woorde van Geoffrey Williams maak aanspraak daarop dat jy en jou maat nie net bewus moet wees van jou eie liefdestaal nie, maar dat die belangrikheid lê in die verstaan van mekaar se liefdestale.

“You can’t pour from an empty cup” is ‘n bekende gesegde wat verwys daarna dat jy nie kan liefde uitdeel as jy nie geliefd is nie, maar jy en jou maat se emmertjies word nie op dieselfde manier gevul nie.

Hiermee bedoel ek wat vir jou die liefd gevoel en vlinders op jou maag gee, gee nie noodwending dit vir jou man nie. My man dink hy is baie oulik as hy my kar diens en volmaak voor ek die langpad alleen moet aandurf maar my gevoel is dis ‘n man se werk en ek kry nie die “ek is lief vir jou” boodskap hierdeur nie.

Ek bespreek graag ‘n paar praktiese voorbeelde hoe jy jou eie, en jou maat se liefdestaal kan uitleef – sien eers die skakel heelonder om julle liefdestale te bepaal.

Soos meeste van ons weet is bevestigingswoorde (of “words of affirmation”), dade van diens (of “acts of service”), geskenke, fisiese aanraking en kwaliteit tyd die vyf liefdestale.

Bevestigingswoorde handel grootliks oor die konsep dat ‘n persoon met hierdie liefdestaal nie die aanname wil maak dat hy/sy belangrik vir jou is, oulik is, of dat jy lief is vir hom/ haar nie, hierdie tipe persoon wil dit hoor deur bevestigende woorde. Komplimente, motivering, waardeering en sagte soet woordjies dra baie ml’s by tot die persoon se emmer. ‘n Briefie, ‘n boodskap deur die dag of slegs woorde beteken baie. “Ek is trots op jou”, “Jy is my beste vriend/in”, “Jy is ‘n droom wat waar geword het”

Dade van diens is ‘n eenvoudige maar veeleisende liefdestaal (in my persoonlike opinie). Dit is daardie warm koppie koffie in die bed elke oggend, die skoon klere en die kar wat gediens is. My man is absoluut ‘n dade van diens persoon en hy sal slegs voor sy koppie koffie opstaan as ek nie daar is nie of as dit my verjaarsdag is. Neeee, hy is nie bederf nie, ek weet daardie koppie koffie is ‘n “ek is lief vir jou”.

Geskenke? Dit klink ‘n bietjie materialisties, maar dit is glad nie die idee nie. Dit behels nie ‘n “shopping spree” elke naweek of ‘n Guess horlosie nie. Dit is ‘n blommmetjie langs die pad wat gepluk word of ‘n sjokolade en ‘n glas wyn na ‘n moeilike dag. ‘n Persoon wat geskenke as sy/ haar primêre liefdestaal het smag na die aandag en tyd wat in die geskenk ingaan en nie die prys wat daaraan geheg word nie.

Fisiese aanraking is nie ‘n permanente gevleg inmekaar in nie. Hierdie is my primêre liefdestaal en ek en my man het ‘n sê-ding – “You never leave the house without a hug, a kiss and an I love you”. Hierdie 5-sekonde eenvoudige roetine wat ons het maak my hart elke oggend vol voor ek by die huis uitgaan. Mense met hierdie liefdestaal floreer op nie-verbale kommunikasie – hande vashou, drukkies en absoluut die bewustheid van jou teenwoordigheid.

Persoonlik vir my is kwaliteit tyd een van die moeilikste liefdestale om op ‘n gereelde basis uit te oefen want nie ek of my man is groot op dit nie, wanneer ons iets alleen doen is dit ‘n “road trip” met musiek of ons kyk flieks saam, maar kwaliteit tyd vereis hoofsaaklik een-tot-een gesprekke van aangesig-tot-aangesig met onverdeelde aandag. Maak bewuste besluite om tyd saam te spandeeer deur piekniek te hou of met die honde te gaan stap – maak seker hierdie “dates” is “unplugged”, geen selfone en geen sosiale media.

Saam reis, saam dorp toe gaan en saam kosmaak is kleiner dade wat hierdie persoon se hart vinniger sal laat klop.

Iemand met ‘n hart wat na kwaliteit tyd smag sal baie swaarder kry in ‘n langafstand verhouding as iemand wat smag na bevestigingswoorde. Dit is hoekom dit belangrik is vir ‘n man en vrou (getroud of ongetroud) om op dieselfde bladsy met hulle verwagtinge, waardes en toekomsvisie te wees.

Maak ‘n tydjie in die volgende week om jou en jou tweede helfde se liefdestale te bepaal.

P.S: Die vyf liefdestale is NIE net vir jou man of vrou bedoel nie – jy kan liefdestale beoefen in enige van die verhoudings in jou lewe. Sien gerus hieronder ‘n skakel vir liefdestale in verskillende verhoudings:

Liefdestale Quizzes

Hier is ook ‘n skakel as jy nog nie Gary Chapman se boek “The Five Love Languages” gelees het nie – doen jouself ‘n guns en sit dit hoog op jou prioriteitslys want hierdie boek verander lewens en red verhoudings!

Deur:

C.S. – Net nog ‘n hopelose romantikus!

Trou Idees