Om die proses van trourok soek aan te durf kan jou soms verdrink in oorweldigende opsies, veral as jy onseker is oor watter rokstyl jou lyfvorm die beste sal komplimenteer. Jou liggaamsvorm word bepaal na aanleiding van waar jy meeste van jou gewig dra. Elke bruid se lyfvorm gaan van nature verskil, maar ons sit elke figuur hieronder uit een, en gee riglyne oor watter trourok-styl jou lyf sal komplimenteer.

Appel-vorm het ’n opvallende borsgrootte en skouers, met ’n vol magie. Die figuur het wel nouer heupe, slank bene met ’n minder gedefinieerde middellyf. Ons fokus sal dus wees om die kleinste deel van die middel te beklemtoon. Dit kan meegebring word met ’n A-Lyn of Balrok-vorm, of ’n Empire-middel, om te verseker dat die voller maag vermom word, en dat die middel terselfdertyd verslank word.
Piesang-vorm, ook bekend as ’n rectangle, verwys na ’n figuur waar die skouers, middel, en heupe direk in proporsie is met mekaar. Die middel is dieselfde as die skouers en heupe, en is minder gedefinieerd. Trourokstyle soos Sloop-styl, Meermin en Balrok, sal hierdie figuur goed vlei deur die illusie van ’n gedefinieërde middel te skep. ’n Sloop-styl of Meermin vorm sal die illusie van kurwes meebring, en Balrok sal ’n uurglas-illusie vertoon met ’n beklemtoonde middel en voller heupe.
Aarbei-vorm, ook bekend as ’n onderstebo-driehoek, het prominente borsgrootte en skouers wat vloei na kleiner heupe en slank bene. Om die silhoeët uit te balanseer, sal ons volume byvoeg aan die onderdeel van die vorm deur ’n A-Lyn of Balrok met ’n Empire-middel . Dit sal die fokus op jou verslankende heupe plaas, en hou die aarbei-vorm gestruktureerd.
Dubbelkersie-vorm staan ook bekend as die uurglas-figuur. In hierdie geval is die bors en heupe dieselfde grootte, met ’n kleiner middellyf. Hierdie figuur sal baat vind by verskillende rokstyle, maar ’n noupassende silhoeët soos Meermin en Trompet sal die vorm se kurwes mooi definieer, en vlei om die middel en heupe.
Peer-vorm behels ’n klein borsgrootte, nouer skouers en ’n skraal middel, maar met breër heupe en bobene. Die ideaal met hierdie figuur is om ’n A-Lyn of Balrok-styl te gebruik om die heupe te verbloem en jou middel te aksentueer, en gelyktydig fokus te plaas op jou skraal bolyf. Dit skep dus harmonie tussen die lyfvorm en trourok.
Elke bruid se lyfvorm verskil volgens wáár sy die meeste gewig dra, en moet gebalanseer word met die korrekte trourokstyl. Alhoewel hierdie ’n riglyn is, beveel ons aan dat jy steeds jou lyf omhels met die tipe styl en trourok waar in jy gemaklik voel! Vier die wonders van die vroulike liggaam met ’n rok wat jou hart vinniger laat klop!
Nikita Cary-Smith
Tweedehandse Bruidjie