BLOU HARE EN ’N DUN, VERLEPTE BLOMMEKROON
’n Paar weke voor die groot dag, loop ek by die haarsalon uit met helder blou kolle dwarsdeur my platinum-blonde hare. Ek en my toe-verloofde het gedink dis baie snaaks en, het aanvaar: “dit is nou wat dit is”. Heel bereid om só te trou, word ek vriendelik deur my familie en vriende aangehuts om iets daaromtrent te doen. Gelukkig het hulle wyshede gehelp en die blou was uit die prentjie op die groot dag. Maar toe kom my blommekroon dun en verlep by my aan op die dag! My talentvolle ma begin die krisis kalm, maar met mening, aanpak in die agtergrond.
MY WENK:
Blou hare of nie, pap blommekroon of nie, geniet die oploop, en die dag – maak nie saak wat nie! Kies ’n kreatiewe gevolg wat die kinkels met liefde en groot gewilligheid vining-vinnig sal uitsorteer.


DIE LAASTE NIPPERTJIE TROU SKOENE
My skoene se aankoms is net betyds dat ek hulle so bietjie kon inloop. By my laaste rok pas, sien ons dat die skoenw heeltemal die verkeerde kleur is en dit bots só met my rok dat ek op die laaste nippertjie ’n ander paar skoene moes koop. Ek het geen tyd gehad om hulle in te breek nie. So sit my toe-verloofde die aand voor ons troue vir ure en buig, vou, en masseer dié skoene tot sy hande stokflou is – net dat die leer effe sagter is. Ons het só gelag dat dit steeds een van my gunsteling herhinneringe is van die aand voor die groot dag.
MY WENK:
Aanvaar die onbeheerbare, bly oopkop en maak die beste van ’n op-die-nippertjie plan B, C of D. Kaalvoet dans is ’n prettige affêre!



WINDVERWAAID
Ons het ons first look, en sommer die gevolg se foto’s ook, voor die seremonie vasgevang. Die wind het so gewaai dat ons almal se duur kapsels en grimering vining wind-woes gelyk het (veral my boskasie met die einste nou-skewe blommekroon). Selfs ons fotograwe en videograwe moes saam met die gevolg inspring en gesmeerde lipstiffie herstel, hare reg trek en die blommekroon weer in posisie vassteek – net betyds vir die seremonie.
MY WENK:
Neem baie foto’s voor die seremonie (dalk nie heeltemal in ’n warrelwind nie), maar dit het ons die geleentheid gegee om baie meer tyd en kosbare oomblikke met ons gaste te deel.


UITEINDELIK VOOR DIE KANSEL
Die manne gaan staan netjies en gereed voor by die kansel. My pa was ’n strooijonker en het met soveel gees daar voor bly staan dat hy vergeet het om by ons te kom wag sodat ons din die paadjie kan af stap. Die in-stap-musiek begin, en ek dink op my voete en fluister vir my ma (wat ook ’n strooimeisie was), “Mamma moet my nou maar asseblief in die paadjie afstap”. My hoofstrooimeisie-sussie hardloop net daar en dan om die hoek, en fluit vir my pa om na my toe te kom, terwyl meeste van die strooimeisies al lankal ingeloop het. My pa kom aangedraf en begin groot geselsies aanknoop – ek kon nie lekker hoor wanneer ons in die paadjie moet begin af stap kansel toe nie. Ek het dalk nie heeltemal op die beplande oomblik van die liedjie om die draai geswaai nie, maar ek sal nooit my pa se opgewonde en gelukkige gesig vergeet nie en ek sal dit altyd koester.
MY WENK:
Sien die silwer randjies raak. Jou naastes probeer om jou dag ’n absolute droom te maak. Waardeer hulle, en alles wat hulle vir jou gedoen het om die dag moontlik te
maak.


HORLOSIES, EN ’N TE VROEË SOEN
My toe-verloofde het klaarblyklik nie die regte horlosie aangehad vir “trou” nie, en hy ruil toe horlosies met een van ons strooijonkers. Ons het ’n ongelooflike spesiale rooskwarts-en-lint seremonie gehad, waar ons huweliksbevestiger uitgesoekde gaste na vore geroep het om ’n lint om ons hande te bind en goeie wense oor ons huwelik uit te spreek. Min het ons geweet dat die ruiltransaksie van horlosies die volgende dag sou uitlig presies hoe blitsvinnig die “horlosie”-strooijonker se hart geklop het toe hy sy stukkie moes voordra. Maar nie net hy was onkant gevang gedurende hierdie spesiale seremonie nie. Ek en my man het sommer mekaar omhels en gesoen vóór die huweliksbevestiger die woorde, “you may kiss your bride” gesê het ― oeps! Ons het, natuurlik, net weer gesoen. Ta-da!
MY WENK:
Verstaan dat daar ook senuwees betrokke is van ander wat jou dag besonders probeer maak, waardeer elke helpende horlosie. En ’n tweede soen is net ’n bonus!

“SIMPLY THE BEST” VERRASSINGS
Deur die loop van die groot dag tokkel daar ook verrassing oomblikke aan jou hart-snare. Toe my kleinnefie my sien, bars hy uit: “Kyk! Sy’s regtig ’n engel!” Toe is ek éérs in trane. Die huil het vining verander in ’n lag toe ’n skaap ons jaag oor ’n groot, gedroogde bos en my handgemaakde sleep skeur binne ’n oogwink. My fotograaf se giggelend, “’n Troue is nie ’n troue sonder dat iets skeur of breek nie.” Die grootste verrassing was my drie sussies wat vir my die mooiste weergawe van Noah Reid se “
simply the best” gesing het. Ek het al my grimering afgesnik.
MY WENK:
Wees gereed vir iets om skeef te loop, onthou om te lag, en verwelkom ’n emosionele tuimeltrein. Daar mag dalk net stortende trane afgewissel met luide gelaggery wees. Dis die oomblikke wat mens die meeste waardeer. ’n Geskeurde sleep is definitief ook ’n kunswerk teen die muur.

DIE BRUIDEGOM SE TOESPRAAK-GLIPSIE
My pas-man is so oorweldig met die tuimeltrein van die dag dat dit hom heeltemal ontgaan het om enige iets oor my te sê tydens sy toespraak (en ek kom dit nie eers agter nie, ons het mos reeds ons persoonlike geskrewe beloftes tydens die seremonie uitgespreek). Toe hy reeds ’n paar tree van die mikrofoon af weg getap het, besef hy sy glipsie, en draf terug om sy toespraak reg te stel. Ek en die gaste kon aanvanklik nie ons lag hou nie. Maar op tweede probeerslag, was dit die mooiste liefdesverklaring.
MY WENK:
Ek het geen, groot toespraak verwag nie. Probeer alle verwagtinge opsy skuif. Emosies hardloop hoog en dinge is deurmekaar. Vat dit soos dit kom. Met glipsies en al.




“RAIN CAN’T RUIN A WEDDING, UNLESS YOU LET IT!”
Ons glo nou dat geen troue volgens beplanning verloop nie – daar mag dalk blou hare betrokke wees, ’n dun en verlepte blommekroon, knap skoene, ’n warrelwind foto-sessie, ’n pa wat meegevoer word en nie betyds by die bruid uitkom nie, die vinnige hartklop van ’n “horlosie”- strooijonker, ’n soen wat te vroeg is, of ’n glipsie in
die bruidegom se toespraak. Maar, dit is presies wat ons troue, vir ons, absoluut perfek gemaak het. Die “oepsies” het die dag gemaak.
MY WENK:
Geniet net elke liewe oomblik, soos dit gebeur. Dit gaan blitsvinnig verby! Die klein goedjies maak glad nie saak nie, self sook die groter goed. Jou gaste het geen idee wat die oorspronklike plan was nie, niemand gaan eers weet van die kinkels nie. Al wat saak maak is dat jy en jou huweliksmaat die spesiale gebeurtenis ten volle inneem en absoluut gate uit geniet saam met die mense wat julle net geluk en liefde toewens. My dag was ’n droom, met alles wat soos beplan afgeloop het, maar ook die paar goedjies wat skeef getrek het.

