Cecilia & Kobus {Mooi in Rooi}

Persoonlike inligting:

  • Naam van Bruid: Cecilia Venter
  • Naam van Bruidegom: Kobus Putter
  • Datum van troue: 01 -12 – 2012
  • Tyd:15:00-15:30

 

Diensteverskaffer Inligting

  • Trou Koordineerder: Ek het als self gereel met hulp van familie. Almal het ingespring om ‘n handjie by te sit waar hulle kon.
  • Fotograaf: Gert (GM Photography)
  • Bruid en Bruidmeisie rokke: Sue Putter (Nou my skoonma) het baie hard gewerk om die mooiste trourok en twee strooimeisie rokke te maak.
  • Bruidegom en mans pakke: Bruidegom het ‘n pak by Edgars gekoop en die twee strooijonkers het hulle pakke gehuur by Belissimo.
  • Blomme: Tannie Sussie, Oom Dries en my skoonma. Dit was die mooiste blomme ooit.
  • Dekor: Gabbata se kandelare en tafeldoeke. Hulle het ons baie gehelp met die dekor. So paar goedjies geleen by ‘n vriendin en baie goed self gemaak.
  • Koek: Jenny Venter
  • Spyseniering: Die Venue – Gabbata Lodge – Chef: Previn

 

Oor die Bruidspaar

  • Hoe en Waar het julle ontmoet:  Uhm…. Waar het als begin? Mekaar geleer ken toe ek nog baie jonk was – hy was in ‘n verhouding en ek was in ‘n verhouding. Ek was 16 en hy was 23 toe ons mekaar vir die eerste keer gesien het. Dit was by ‘n familie braai, hy het met die niggie uitgegaan en ek het met die neef uitgegaan. (As dit sin maak). Dit was nou wel nie “love at first sight” nie. Sou daai tyd nooit gedink het dat hy die man gaan wees wat voor in die kerk staan en vir my wag nie. Maar die liefde kom wanneer jy dit nie verwag nie en wanneer jou hart die besluite maak vir jou dan is die koël deur die kerk . Wys net hoe die Liewe Vader sy eie tyd en plan met ons het. Vandag is ek getroud, met my beste vriend en my sielsgenoot.  So ja… Julle weet nou wat is die storie. Maar waar hy die die eerste keer my hart gesteel het was ‘n koue aand in Julie 2010 – Loftus!

 

  • Hoe en Waar het hy jou gevra om te trou: Ons het vir ‘n lang naweek in April weg gegaan. Ons was by die mooiste plek. Net bos en natuur orals waar jy kyk en ons “cottage” was in die middel van die bos. Al wat jy hoor is die geluide van arende en seekoeie. En dan nog die cherrie op die koek, ons het ons eie private Jacuzzi op ons deck. Ek het dadelik iets vermoed maar nie geweet wanneer, waar of hoe dit gaan gebeur nie. Die eerste oggend is ons dou voor dag op en oppad wildtuin toe – soos ons ry sien ons die mooiste son opkoms. By die hek staan ons wag, hy gaan kry gou die papier werk reg ek wag in die kar. Dis toe my kop speletjies met my speel, en ek dink vandag is die dag, vandag vra hy my… En toe gebeur dit nie. Oppad terug na ons asem rowende “cottage” toe beplan ons solank wat ons more gaan doen . Hy sê hy dink ons moet na die Potholes toe gaan en dan God’s Window. Toe weet ek hy gaan my daar vra om te trou, daar bo, ek meen wat kan meer rromanties wees as dit? Toe ons by God’s window aankom vat ek daai padjie aan en het sommer baie krag om die padjie op te stap met ‘n glimlag na ons toekoms. Want ek weet mos wat wag vir my daar bo. Die view daarbo is onbeskryflik mooi. Die afstap was nie so lekker nie! Geen ring aan my vinger en ek is moeg! Oppad terug na ons plekkie in die bos beplan ons die aand. Ek praat nie veel nie want ek is nogsteeds gedaan van daai “klim” na my ring… Die angs en wonder het my uitgeput. Die aand by ons cottage maak ons ‘n vuurtjie – vleis is reg vir braai en die braaibroodjies is klaar gebou. Ons altwee sit met ‘n drankie in ons hand en luister na die bos geluide, Ek sê vir hom “kan nie glo dit is ons laaste aand nie” maar wat ek dink is kan nie glo dit is ons laaste aand en ek het nogsteeds nie ‘n ring nie! Ek gaan trek my swembroek aan want die Jacuzzi is net wat ek nodig het vir die seer lyf en voete. Toe ek buite kom is die ligte af… al wat ek kan sien is die 2 kerse wat op die tafel staan en die paar kersies wat mooi om die Jacuzzi gepak is. En die man van my drome se skaduwee. Ek het nie geweet wat om te sê of geweet wat om te doen nie. Vinnig wil ek in die Jacuzzi klim maar hy keer my, hy sê ek moet by die tafel sit, hy wil met my praat. (Baie ernstig) Nou het ek ‘n knop in my keel maar wag dat hy begin praat. Al wat hy kon sê is “ Ek het met jou pa gepraat en hy het…” Hy het opgestaan en op een knie gegaan voor my. Ek kon nie meer die trane keer nie. En toe hy die trane afvee was daar alreeds die mooiste ring aan my vinger! En toe… sê ek JA! Dit het als gebeur toe ek dit die minste verwag. Net soos ons liefde vir mekaar.

 

  • Die Troue: (van a – z): Ons het na so paar plekkies gekyk op die internet en besluit ons sal gou saterdag oggend ry en gaan kyk na die plekkie. Nie so baie van die plek gehou nie. Oppad terug het ons verby Gabbata gery, ek het vie Kobus gesê ek dink ons moet indraai. En binne 1 uur het ons die plek waar ons wil trou en klaar! Nie eers gaan kyk na ander venues nie… Toe kom die beplanning. Ek het self die uitnodigings gemaak. Ons kleure was rooi en silwer. Rooi is die kleur van liefde en ons tema was Liefde! Hoe rooier, hoe mooier! Maande se beplanning en hoe die rok moet lyk…wat dit is tog die een ding wat perfek moet wees! Als was presies hoe ons dit wil hê, Ons het meer vriende by die troue gehad as familie, mense wat nog altyd daar was vir ons . Elke persoon wat by ons troue was het ‘n spesiale plekkie in ons harte. Kobus se vriend, Corrie, sou ons getrou het, maar die liewe Vader het hom kom haal 2 maande voor ons groot dag. Dit was regtig baie hartseer. Dit sou ons dag baie spesiaal gemaak het. Nie net was Corrie ‘n goeie vriend nie, maar hy het altyd ‘n grappie gehad en ‘n goeie woordjie. Ds. Fanie het net so ‘n goeie boodskap gegee – Als was perfek! Ons DJ : Henk Venter (Kobus se “swarrie”) Ons was baie gelukkig om familie te hê wat ons kon help met die musiek en die koek. My koek en cup cakes is gebak deur Jenny Venter (nou my skoonsus). Dit was die lekkerste Red Velvet koek ooit! My make-up is gedoen deur Jeanine Matthee, my viendin wat al die langste in my lewe is. My hare is gedoen deur Simone Pretorius en Jeanine Matthee. Die dag voor die troue is ons almal oppad venue toe – die karre is vol gepak. Oppad kry ek ‘n oproep van die venue… Sommer dadelik ‘n slegte gevoel gekry. Tel die foon op en ‘n stem sê vir my “Julle kan nie vandag die venue opmaak nie want daar is ‘n jaareind funksie vanaand en ons sal eers more oggend als op hulle plekke kan sit”. Darem kan ons al die goed aflaai en hulle het dit veilig vir ons gebêre tot die volgende oggend. Die oggend van die troue. Lyk dit asof dit wil reen en dit is ‘n perfekte 25 grade dag. Dit was die hele dag bewolk gewees maar niks gereën nie. Eers later die aand begin liggies val. Oggend vroeg is ons oppad venue toe, ek, Jeanine en my ma. Haastig om die saal reg te kry. Toe ons daar kom is die tafels al gedek en skoonma to be en tannie sussie is al besig om die tafelruikers reg te sit. Als het pragtig gelyk. Maar daar was ‘n paar goedjies wat ons vinning moes doen, voor my bruidegom opdaag – hy mag my mos nie sien nie. Haastig oppad kamer toe staan Simone vir my en wag om my hare te doen, die fotograaf is ook al daar. Marlize reel vir my ‘n drankie, nie seker wat dit was nie, maar ek het dadelik rustiger gevoel. My foon lui, dit is my bruidegom. Vinnig vat Jeanine die foon by my, ek mag nie met hom praat nie… Ek wou so graag sy stem hoor. Al wat hy wil sê is dankie vir sy horlosie wat ek vir hom in ‘n boksie op die bed gelos het en…hy is lief vir my. Als is so gou verby – wens ek kon so paar oomblikke “pause” van ons trou dag. Toe ek in die kerk instap met my pa langs my sy. Van al die “walks” wat ons al saam geloop het, was die een my gunsteling. My bruidegom staan voor , trots en hy kan nie sy oë van my afhaal nie. Ek probeer die trane keer want die make-up! Ek voel hoe snik my Pa langs my, maar toe ek daarvoor kom, en ek sien my man se blou oë het ek die grootste glimlag ooit op my gesig.

 

  • Raad vir toekomstige Bruide: Geniet elke oomblik want die dag gaan so gou verby.

 

  • Die beste deel van my troudag: Die hele dag!! Van oggend tot aand. Daar was so paar oomblike, soos daai gevoel wat ‘n bruid kry as sy daai troumars hoor en die kerk banke kraak want almal staan op vir jou om te kyk hoe haar Pa haar lei na haar nuwe lewe. Maar die deel wat vir my baie spesiaal was, Was die laaste dans – Taylor Swift se liedjie “Love Story” “I talked to your dad, go pick out a white dress , It’s a love story baby just say YES”