Estelle & Francois {Tweede kans}

Persoonlike Inligting:

  • Naam Van Bruid: Estelle Odendaal
  • Naam van Bruidegom: Francois Odendaal
  • Datum en tyd van troue:2 November 2013 om 15:00
  • Venue: Ruimsig Country Club
  • Getal gaste: 74

Diensverskaffers:

  • Trou koordineerder: Die bruid self
  • Fotograaf: Chris Schoonwinkel van Wedding Portraits  –  0824718379  –  [email protected]
  • Grimering en hare: Wimari du Plessis – 0726433232

 

  • Hoe en waar het julle ontmoet:Ons het ‘n lang storie.  Was vir 20 jaar getroud en is later geskei net om mekaar te herontdek!  Wat die Here saamgevoeg het, kan geen man van mekaar neem nie!  Ons was letterlik brandarm toe ons 20-jaar gelede getrou het en het noodgedwonge by Binnelandse Sake getrou.  Dit het net altyd vir my gevoel of iets skort.  Dit het gevoel asof ons huwelik nie die Here se seen ontvang het nie.  Ek het, soos enige ander Meisie, altyd maar gedroom van ‘n mooi troue en dit is juis vir my so spesiaal dat die Here ons ‘n tweede kans gegee het.  Die beste was dat ons twee kinders,  Nina en Estian, kon deel in ons vreugde.  Ons het beide besef dat dit wel vir ons belangrik was om die dag baie spesiaal te maak.  Ek moet hier net bevestig dat dit al die moeite, geld en bloedsweet werd was!  Hierdie troue voel kompleet anders!  Die dominee was iemand saam met wie ek in my werk reeds ‘n pad geloop het.  Hy het bygedra dat die dag ekstra spesiaal was.
  • Hoe lank het julle mekaar geken: Uit die aard van die saak kom ek en Francois meer as 20-jaar saam.   Ons voel uiters “gebless” en spesiaal!

 

  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Glo dit of nie … ons het een middag na werk in Mc Donalds verloof geraak!  Genade, hoe onromanties!  Ek hou nie eers van hulle kos nie.  Ons was toevallig daar en hy het toevallig gevra.  Dit was die beste dag van my lewe!

 

  • Die troue (van a-z): Ruimsig Country Club se personeel was so professioneel dat ons bittermin kommer gehad het.  Ons seremoniemeester was ‘n baie goeie vriend en hy het die oggend voor die troue reeds na die venue gegaan om seker te maak dat alles in orde was.  Wimari (haarstileerder en grimeerkunstenaar) was reeds vroeg besig met my blommemeisies se hare en grimering (en later myne).  Ons het so lekker gesels dat die tyd binne ‘n oogwenk verby gegaan het.  Chris Schoonwinkel het ook by my aantrek- en oornagvenue (Black Eagle Guest House) opgedaag en ons het heerlik informeel fotos geneem.  Sy rustige geaardheid het my stresvlak definitief laat daal!  Ons is daarna na die venue waar my liefie en sy gevolg vir ons gewag het.  Ons seremoniemeester het die troukar bestuur en my “girls” het absolute “fun” gehad op die agtersitplek van die oopslaankapmotortjie! My instap lied was ‘n baie spesiale lied wat kom vanuit die eerste rolprent wat ek en manlief ooit saamgekyk het.  Daar was natuurlik ‘n traan in sy oe. Ek het met my toespraak in die saal ‘n swartpot se deksel weggesteek wat Francois moes soek.  Die Dj het Juanita se liedjie “Pot se Deksel” gespeel.  Die gaste was gaande daaroor veral omdat hy op sy kniee onder die tafels moes snuffel!

 

  • Raad vir toekomsige bruide: Gebruik goeie verskaffers.  Ek het met al myne goeie vriendskappe gesluit en hulle voel al soos familie!  Maak seker jy kan op jou verskaffers staatmaak.  Sif tussen verskaffers.  Duur is nie altyd die beste nie.  Ek het gekyk na die persoonlikheid van die verskaffers omdat hulle veral saam met my moes werk om die dag ‘n sukses te maak.  Begin lank voor die tyd en doen elke maand ietsie vir jou troue.  So voel jou sak dit nie so erg nie.  Ons het bykans ‘n jaar lank beplan en betaal aan ons troue.  Dis julle dag.  Moenie dat ander se houdings of alternatiewe idees jou omkrap nie.  Hulle het al hulle kans gehad, of gaan dit nog kry.

 

  • Beste deel van die dag: Definitief die instap in die kerk.  My pa is baie sieklik met Alzheimer’s, en dit was my droom dat hy my die kerk moes inbring.  Simboliek is vir my so belangrik.  Daarom die idiee van die swartpot en ons spesiale musiekkeuse.
%d bloggers like this: