Heidi & Johan {DIY Vintage}

Persoonlike Inligting:

  • Naam van Bruid: Heidi
  • Naam Van Bruidegom: Johan Groenewald
  • Datum en Tyd van troue: 4 Januarie 2013 10H00
  • Venue/plek van troue: Shelanti Chapel en onthaal KleinKaap Boutique Hotel – Centurion
  • Aantal gaste: 70

 

Diensteverskaffer Inligting:

  • Trou Koordineerder: Ons self
  • Fotograaf: Pure Image Photography
  • Bruid en bruidmeisie rokke: Ophelia – Morgan & Brown Bridal
  • Bruidegom en mans pakke Euro Suite Menlyn
  • Blomme : Gerhardt Oosthuizen (Bruid se broer)
  • Dekor: Self gedoen
  • Koek: Schweet Emporium – Centurion
  • Spyseniering: KleinKaap Boutique Hotel

 

Oor die bruidspaar:

  • Hoe en waar het julle ontmoet: Eendag lank gelede, omtrent so 28 jaar terug, op ‘n tiener-kamp in die middel van die winter in ‘n koue Potchefstroom, word die tieners uitgevat na die Beredesentrum tussen die perde by die weermag. Soos tieners maar is, aan die begin van ‘n kamp is jy maar skaam vir mekaar, kyk mekaar uit en ’n tiener seun wag maar vir sy kans vir die regte oomblik om die meisie van sy drome nader te kry. Dit was daar in die perdestalle by Potch Beredesentrum, waar Heidi se hande so ys-yskoud geword het en sy verskriklik daaroor gekla het. Johan het besluit dit is sy kans en het haar hande gevat om dit warm te maak. Daar het ons hande vasgehou vir ‘n lang tyd, saam gestap hand aan hand. En dit was wonderlik vir ons. Oor die jare het ons vriendskap gegroei, ons liefde gegroei. Amper 7 jaar na die ontmoeting het dit gelyk of die liefdeskring voltooi is, maar vir die prins en prinses was daar struikelblokke wat oor hul paaie gekom het. Ons is weg uitmekaar uit, gelukkig soos in alle sprokiesverhale is daar iets wat ons saamgebind het. Die prins en prinses was aanmekaar verbind deur ‘n wonderlike seun. En hierdie band, van hierdie pragtige seun was sterker en oor die jare deur het hierdie band ons weer stadig maar seker nader aan mekaar getrek.En na 21 jaar se verloop met ons seun wat al ‘n trotse man geword het, en almal omtrent hoop verloor het vir ons twee, het die sprokies liefde weer gekom. Dit met die hulp van ons seun en drie nierstene (toe hy in die hospital beland het). Noodgedwone is ek en Heidi saamgesnoer, in ‘n lang voertuigrit alleen ons kon weer begin praat. En op die pad kon ons na mekaar luister en kon ons met mekaar praat oor die struikelblokke wat op ons pad gekom het, met die dinge wat moeilikheid veroorsaak het tussen ons. Daar was seer, ons het gehuil, ons het gelag, maar daar was vergifnis en daar was liefde bo alles.En so met die uithuil van die seer, het die liefde weer sy plek geneem en so het ons sprokie gebeur sodat ek op Vrydag 4 Januarie as prins langs my prinses kon staan, langs die prinses van my drome, om die res van ons lewens in liefde met mekaar saam te snoer.

 

  • Hoe lank het julle mekaar geken: 28 jaar

 

  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Vrydag 16 November 2012 het Johan met die hulp van my vriendin en 2 van sy vriende vir my ‘n ongelooflike dag gereel – ons het die dag 4 maande uitgegaan. My vriendin het gereel om by 2 uur by die huis te kry (krises met haar kind) en ek moes maar net plan maak met die werk. Ek is huistoe, intussen breek alle hel los by die huis, die foon hou nie op met lui nie, krises by die werk, die kontrakteur wat die vensters moet vervang argumenteer of die nou 16 of 18 ruite is… en skielik daag Liam (Johan se vriend) by die huis op. Ek se toe sommer vir hom, nie nou tyd om met hom ook te deel nie, hier’s koeldrank, sit, drink sal later hoor hoekom jy hier is. Toe alles rustiger gaan, vra ek maar – nou ja, my vriendin se ‘sogenaamde dogter in krises’ was deel van die plan. Ek word ontvoer saam met Liam in sy GTR. Die vertel my ons gaan paintball speel. Ek kon al sien hoe my lyf lyk van al die blou kolle en buitendien het ek ‘n nuwe bloesie aangehad – wie wil nou paintball speel met jou nuwe bloes en hoe hakskoene? Na ‘n lange rit draai hy toe in by SA Lipizzaners …. Daar het my liefde van my lewe gewag, met die mees romantiese piekniek. In een van die perdestalle, het “Maestoso Erdem (gebore 14.2.97)” gestaan, met die ring om sy nek…Johan het op sy kniee gegaan en die groot vraag gevra….

 

  • Die troue (van a-z): 6 weke na die groot vraag, is ons getroud. Die beplanning het vining gegaan en daar was baie wat gedoen moes word. Ons het besluit om self die meeste dinge te doen en te maak. Van die uitnodigings tot met die dekor. Dinge wat vir ons baie spesiaal was:

– Net my Moeder lewe nog, ons seun Marlou het my by die kerk ingebring en tog wou ek graag my pa saam met my he. So het ek toe ‘n troufoto van my ouers en van Johan se ouers in raampies gesit en aan my ruiker gehang. Die ruiker is deur my broer gemaak.

– Die blommetjie wat my moeder gedra het, het ek ook self geborduur en gemaak

– Ek het vir my moeder ‘n sakdoekie gemaak met die volgende woorde op: “Mamma Jane, om jou trane af te droog soos jy myne altyd afgedroog het. Dankie dat Mamma altyd daar is vir my”

– Voor in die kerk het ons ‘n lamp gehad met 3 ligte – in elk van hierdie was fotos van ons ouers en groot ouers

– In die kerkpaadjie af, het ons fotos gehang – die eerste toe ons om en by 6 jaar oud was, die 2de toe ons uitgegaan het 21 jaar terug en die laaste van ons verlowings fotos

– Ons het besluit om ‘n runner te maak vir die kapel met ‘n gedeelte van 1 Kor 13 – hierdie het ons met die hand geskryf – ‘n paar blou kniee en elmboe later…

– En by die ingang van die kapel – almal Welkom geheet by ons huweliksbevestiging

– Die ringkussing was my ouers se trou Bybeltjie wat ek ‘n oortreksel gemaak het

– Die knielkussing, tafeldoek het ek ook self gemaak

– Die kousband het ek ook gemaak, daaraan was ‘n hartjie met fotos binne in van my en Johan

– Onder aan Johan se skoene het ek ons voorletters geplak

– Die dekor van die tafels het behels – voeltjies wat ons by MrPrice gekoop het – Johan moes die in JabulaniMall in Soweto gaan koop het. Die papierblomme het ons self gevou , die servette is geborduur en elke gas het ‘n CD  met musiek wat ons verhaal vertel het, gekry saam met ‘n ‘lace’ boekmerk voeltjie

Ons dag was een groot ‘fairytale’. Ek en my Moeder het met ‘n koets van Terrouge Carriages by die kapel gearriveer…dit nadat die hele JeanAvenue tot stilstand gekom het terwyl ons soos prinsesse afgery het in die pad. Daar het ons seun Marlou eers vir Ouma die kapel en geneem en daarna my kom haal. Toe hy my sien, het sy mond net oopgeval met ‘n “wow Mamma – jy lyk mooi”. Ek het aan die trotse sy van ons seun die kapel binne gestap terwyl die liedjie “Sy is die Een” van Jo Niemand gespeel het…menige het trane van geluk weg gepik. Pastoor Cliff het die mooiste boodskap aan ons gebring, en met die beloftes wat ons self geskry het – het ons dit aan mekaar voorgelees.

 

Ons beloftes:

Ek HEIDI aanvaar jou JOHAN as ’n Gawe van God

En vandag bid ek met hierdie woorde God se diepste seën op ons neer,

dat deur Sy genade ons Lewens Hom sal vereer.

Jy sal terwyl ek leef, naas die Vader, Seun, en Heilge Gees –

Eerste prioriteit in my lewe wees

 

Met die woorde sê ek nou wat ek so lank al voel,

Om saam met jou te loop in ons lewens doel

Ek sal jou altyd in my arms toevou en daar wees vir elke lag,

Maar ook vir elke vrees, huil en elke donker nag.

Ek sal jou bemin en respekteer vir wie jy is

en jou ondersteun in jou lewensgroei

Vir jou ‘n raadgewer en inspirasie wees

 

En in die teenwoordigheid van God, ons familie, ons seun en vriende beloof ek dat

• Ek vir jou ‘n lewensmaat en liefdesvennoot sal wees in goeie en slegte tye

• My liefde is ewig en onvoorwaardelik

• Ek gee jou my hart en my liefde van hierdie dag af, tot die dood ons skei.

 

Met die ring as simbool van my ewige liefde, verbind ek my aan jou,

Beloof ek aan jou, My ewige liefde en trou

JOHAN, sal jy my toelaat om my lewe en alles wat ek is met jou te deel ?

 

Ek JOHAN aanvaar jou HEIDI as ’n Gawe van God

En vandag bid ek met die woorde God se diepste seën op ons neer,

dat deur Sy genade ons Lewens Hom sal vereer.

Jy sal terwyl ek leef, naas die Vader, Seun, en Heilge Gees –

Eerste prioriteit in my lewe wees

 

Met jou hande saggies in myne gevou sê ek nou die woorde wat ek so lank al voel:

Ek sal my altyd beywer vir vrede in ons huwelik.

Ek sal simpatiek, beleefd en teer teenoor jou wees

En sorg dat die son nooit oor ons toorn ondergaan nie.

Ek sal altyd in waarheid en met liefde met jou praat.

Ek sal jou in my arms toevou en beskerm

en daar wees vir elke lag, maar ook vir elke vrees, huil en donker nag

Ek sal aan jou getrou bly en jou nooit verlaat nie.

 

En in die teenwoordigheid van God, ons familie, ons seun en vriende beloof ek dat

• Ek vir jou ‘n lewensmaat en liefdesvennoot sal wees in goeie en slegte tye

• My liefde is ewig en onvoorwaardelik

• Ek gee jou my hart en my liefde van hierdie dag af, tot die dood ons skei.

 

Met die ring as simbool van my ewige liefde, verbind ek my aan jou,

Beloof ek aan jou, My ewige liefde en trou

HEIDI, sal jy my toelaat om my lewe en alles wat ek is met jou te deel?

Dit was ‘n baie emosionele oomblik vir my en ek kon nie meer die trane keer nie… dit oomblik was byna te groot toe ek my Prins my beloftes lees.

 

Ons het die register geteken, saam het ons ons eerste nagmaal as getroudes geneem….die seen wense is oor ons uitgespreek en toe die groot oomblik… die SOEN!!!!

Bubbels het oor ons gevlieg toe ons by kapel uitkom en saam met my droom prins het ons vertrek in ons koets na die onthaal….die sprokie was volmaak, voltooi… en ‘we living happily ever after’

 

  • Raad vir toekomsige bruide: Geniet elke oomblik te geniet van die beplanning. Geniet die dag – dit gaan so so vining verby!!

 

  •  Die beste deel van jul troudag: Johan het soveel van die dag saam met my beplan en wou alles spesiaal maak, ek wou daardie ietsie spesiaal vir hom doen. Daarom het ek met die hulp van ons seun Marlou en my Moeder, vir hom die Joodse Gebedskleed gekry. Tydens die seremonie, het die Pastoor die tradisie en die gebruike van die Joodse kleed verduidelik. Ek het die doek oopgemaak, om Johan se skouers gehang en hom gevra om die Priester van ons huis te wees – “en ek en my huis ons sal die Here dien”. Dit terwyl ons seun “You raise me up” op die viol gespeel het. Dit was ‘n baie emosionele en waardevolle oomblik vir ons…