Hesmari & Riaan {Pragtig kleurvol}

Persoonlike Inligting:
• Naam van Bruid: Hesmari du Plessis
• Naam Van Bruidegom: Riaan Oosthuizen
• Datum en Tyd van troue: 16 Maart 2013 om 15h30
• Venue/plek van troue: Limerick Lodge buite Potchefstroom
• Aantal gaste: 160

Diensteverskaffer Inligting:
• Trou Koordineerder: Self, my ma, skoonma en boetie!
• Fotograaf: Nerize Raath
• Bruid en bruidmeisie rokke: Zanies Creations
• Bruidegom en mans pakke Markhams
• Blomme : Anton Volschenk en Pieter du Plessis
• Dekor: M&E verhurings en self
• Koek: Erika Dickinson
• Spyseniering: Moolmans

1.     Oor die bruidspaar:


• Hoe en waar het julle ontmoet:
Ons eerste ontmoeting was op skool… – hy was nie ‘n skolier nie, maar my register meneer vir 2 jaar op Hoërskool. Ons verhouding het darem nie op skool begin nie. In my derde jaar op universiteit het ons weer by ‘n gewilde kuierplek ontmoet. Hy het net by ons groep meisies kom sit en begin gesels! Ek het gehoor hy het daarna vir sy vriende gesê dat hier ‘n groot ding aan die kom is!


Hoe lank het julle mekaar geken: van skool tot ons 2de ontmoeting 6 jaar. Ons het 2 jaar uitgegaan voor hy my gevra het om te trou!


Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Riaan het my vir ‘n naweek weg gevat “kamstig vir my verjaarsdag” na ‘n baie romatiese plekkie in die Vredefort koepel – Rock Haven (Die berg vorm die een muur van die huisie, dit was baie mooi). Hy het my eers die 3de aand gevra om te trou. Hy het my later vertel dat hy orals waar ons gegaan het soos op staproetes ens. met die ring in sy kous van alle plekke gestap het, maar het nooit die regte tyd of plek gekry nie. Die aand na ete het hy gemaak of hy nog hout in die kaggel gooi en toe ek weer sien toe is hy op sy knie langs my!
Dit was regtig spesiaal!


Die troue (van a-z):
Die hele naweek het ons saam met familie en vriende gekuier, meeste van hulle het al die Vrydag gekom en daar was lekker gebraai en tot laat gesels oor almal en alles.

Ons het vir 9 maande gereël aan die perfekte troue. Familie en vriende het almal ‘n handjie bygesit! Die doel was dat ons persoonlike styl weerspieël moes word in die dag en dit het wonderlik gewerk! Dit was ‘n ontspanne en warm atmosfeer! Ons het baie aandag gegee aan die detail van die troue en die doel was dat die troue ‘n meng van ou manier en nuwe idees moes wees, dit het ook baie mooi saam gewerk.

Ek het my rok (Gatsby) gekoop by Olivelli in Vanderbijlpark, dit was die rok van my drome, alles was net perfek.

Dona Oosthuizen het my grimering gedoen en Ilze-Mari van Rooyen het my hare prentjie mooi gemaak. Hulle het my soos ‘n prinses laat voel en ek het ook soos een gelyk.

My broer het vir my ‘n ‘runway’ geverf van 1Kor. 13, hy het eendag vir my Beethoven se 9de simfonie gespeel wat die verse ook op getoonset is – ek het dadelik geweet ek en my pa moet op die lied instap. Ons kerkprogram het klomp interessante feite bevat en het selfs ‘n sakdoekkie gehad vir gelukkige trane.

By die diens het alles mooi verloop behalwe vir een ou plekkie waar my oudste broer gedink het hy moet die ringe so vasbind dat dit nooit weer van die kussingtjie kan los kom nie…

Ons het Brutal fruit botteltjies versamel vir 9maande om dit te kan gebruik vir die welkomdrankies en het dit gevul met vrugtesap, Riaan het natuurlik die versamel van die botteltjies baie geniet…

Terwyl almal nog besig was om te kuier en gesels het ons gou foto’s gaan neem, Nerize was baie vriendelik en profesioneel. Sy het geweet wat ons wou gehad het en het ons gou gewys hoe om soos modelle te staan vir die kamera…alles het so mooi uitgekom.

Toe ons die saal instap en almal handeklap het ek weer besef hoe groot en wonderlike dag dit is. Ons het alles probeer inneem sodat niks van die special dag verlore mag gaan nie!

Die formalitiete is gou afgehandel en die dansbaan is geopen…ja die dansklasse het toe gehelp.   

Ek het my handruiker vir die oudste getroude paartjie gegee en toe ‘n bos van 20 los rose gegooi! Ons het die hele aand gelag en gekuier, almal van jonk tot oud het gedans en hulleself geniet. Dit was waarlik ‘n wonderlike en geseënde dag!

Ons het die volgende oggend 03h30 vertrek na Zanzibar wat tot by die lughawe nog vir my as verassing gehou was.


• Raad vir toekomsige bruide: Geniet elke oomblik! Dit gaan so vinnig verby! Eet gedurende die dag want jy eet niks of baie min by die onthaal! Ontspan en moenie dat klein goedjies jou ontstel nie. Neem al die komplimente in!


• Die beste deel van jul troudag:
O tog! Daar is heeltemal te veel om slegs 1 uit te kies.

My pa wat my hand styf vasgehou het vandat ek by die kapel aangekom het, tot hy my veil moes oplig.

Toe my oë Riaan s’n ontmoet en ek die trane in sy oë sien.

Om saam my pa te dans.

Om 16h07 as man en vrou aangewys te word.

Om 2uur die oggend na die troue saam Riaan en die bruidsmeisies kaalvoet oor die gras te stap met al die geskenke onder die arms wittebroodhuis toe en dan oor die drempel gedra te word!