Huwelikskontrakte: Waaroor gaan die bohaai werklik?

Meeste paartjies wat trou het al iewers gehoor dat hulle ’n huwelikskontrak moet sluit. Baie mense ag dit as net nóg ’n verpligte stap voordat mens mag trou. ’n Huwelikskontrak is egter een van die mees belangrike oorwegings om tydens die trou beplanning te maak.

Die regte benaming vir dié kontrak is ’n huweliksvoorwaardekontrak. In Suid-Afrikaanse Engels staan dit as ’n ante nuptial contract (of ANC) bekend en in Amerika ’n pre-nuptial agreement (of prenup). Oor die algemeen praat ons van ’n huwelikskontrak of HVK.

In ’n huwelikskontrak bepaal die aanstaande gades wat met hulle bates en laste sal gebeur na die troue, hulle kies dus die huweliksgoederebedeling wat van toepassing sal wees op hulle huwelik. Die huweliksgoederebedeling bepaal wie die eienaar sal wees van die gades se onderskeie bates en wie verantwoordelik sal wees om die onderskeie laste te betaal. Meer eenvoudig gestel besluit hulle of die “wat-myne-is-is-myne-en-wat-joune-is-joune-reël” óf die “wat-myne-is-is-joune-en-wat-joune-is-is-myne-reël” vir die huwelik sal geld.

Daar is twee algemene huweliksgoederebedeling stelsels in die Suid-Afrikaanse reg; huwelike binne gemeenskap van goed en huwelike buite gemeenskap van goed. Waar ’n huwelik buite gemeenskap van goed gesluit word kan die partye verder ook besluit of die aanwasbedeling vir hulle huwelik sal geld.

2

Om binne gemeenskap van goed te trou is die outomatiese posisie is Suid-Afrika. As paartjies dus trou sonder om ’n geldige huwelikskontrak te sluit sal hulle binne gemeenskap van goedere getroud wees.

Binne gemeenskap van goedere beteken letterlik dat albei gades deel het in al die bates en al die laste. Die gades besit of skuld niks meer in hulle eie naam nie, ’n gemeenskaplike boedel kom tot stand en hulle besit of skuld alles 50-50, m.a.w. wat myne is, is joune en wat joune is, is ook myne.

 

3

Die grootste voordeel van ’n huwelik binne gemeenskap van goed is dat dit in die gees van die huwelik is. Twee mense kom bymekaar en deel alles wat hulle het, die goeie en die slegte. Hulle vorm een eenheid saam. Die groot nadeel hiervan is egter dat daar geen beskerming teen mekaar se skuld is nie.

Indien die huwelik sou beëindig sal die boedel 50-50 tussen die partye verdeel word. Oor die algemeen word paartjie aangemoedig om wel ’n huwelikskontrak te sluit en wel buite gemeenskap van goed te trou omdat daar baie nadele is aan ’n huwelik binne gemeenskap van goedere.

Buite gemeenskap van goedere is totaal die teenoorgestelde posisie. Nadat die paartjie trou bly hulle elkeen die alleen eienaar van al hulle eie bates en ook alleen aanspreeklik vir al hulle eie skuld. Hulle het geen regte teenoor mekaar se bates nie en geen verpligting teenoor mekaar se skuld nie, m.a.w. wat myne is, is myne en wat joune is, is joune.

 

33

Die voordeel van die huwelik buite gemeenskap van goed is dat die gades nie verantwoordelik is vir mekaar se skuld nie, elkeen se afsonderlike bates is dus beskerm. Die nadeel hiervan is dat dit as “koud” geag word omdat dit nie in die gees van die huwelik is om nie in mekaar se bates te deel nie. Die aanwasbedeling is dus ’n verdere opsie wat die paartjie in die kontrak kan insluit wat die gevolg sal hê dat die gades wel in mekaar se bates kan deel.

Wat die kontrak oor die algemeen betref, moet dit deur ’n prokureur opgestel wees en voor ’n notaris geteken word. Die notaris registreer ook die kontrak in die aktekantoor. As die kontrak nie geregistreer word nie is dit geldig nie. Die proses om só ’n kontrak te sluit is oor die algemeen nie té lank nie. Die paartjie moet met die prokureur konsulteer en die prokureur is verplig om die verskillende huweliksgoedere stelsels vir die paartjie te verduidelik. Die paartjie kies dan of hulle binne of buite gemeenskap van goedere wil trou en die prokureur stel die kontrak op wat die paartjie dan kan teken.

Om oor huweliksgoedere en huwelikskontrakte te skryf kan mens vir baie lank besig hou want daar is werklik baie om te sê. Dit is dus onmoontlik om een kort artikel te skryf en alles te verduidelik.

Hierdie is dus die eerste in ’n reeks kort artikels oor huwelikskontrakte. In die artikels wat volg sal elke     huweliksgoedere stelsel individueel en in meer besonderhede bespreek word. Ons sal ook kyk na die aanwasbedeling en wat in ag geneem moet word wanneer die paartjie kies op watter basis hulle die kontrak wil aangaan. Hierdie is bloot ’n inleiding vir wat nog gaan kom. Volgende week se artikel sal huwelike binne gemeenskap van goedere bespreek.

 

LHAFR