Ianette & Werner { Pastelle, windpompe en proteas }

 

Persoonlike Inligting:

  • Naam van Bruid: Ianette Hanekom
  • Naam Van Bruidegom: Werner Hanekom
  • Datum en Tyd van troue: 8 Augustus 2015, 15:00
  • Venue/plek van troue: Waverley Hills, Organic Wine Estate
  • Aantal gaste: 42

 

Diensteverskaffer Inligting:

  • Fotograaf: Liesl Basson Fotografie en assistent Karlien
  • Bruid en bruidmeisie rokke: Bruid se rok gemaak deur vriendin se ma, Annita. Strooimeisie rokke is ook self laat maak.
  • Trouskoene: Anella Wedding Shoes
  • Bruidegom en mans pakke Wedding Bells Suit Hire, hempde het hul self gekoop. Dasse het Ianette self gereël deur Infinity Dresses.
  • Blomme : Blomme rangskikkings het Ianette self gedoen (met die hulp van vriende Jaco & Frans Jordaan-Viljoen), Ianette se handruiker is deur Fynbosch Flora gemaak. Fynbosch Flora en Veldflora het die blomme verskaf waarmee ons die tafels versier het.
  • Koek: Ianette se ma, Anita, het die koek “gebak”, en kolwyntjies is deur strooimeisie Jeannine Theart gemaak van Eventique. Ianette het die Lekkergoed tafel ook self gedoen, koek versier, ens. Ianette se ma het die klapperys en fudge gemaak.
  • Spyseniering: Waverley Hills Organic Wine Estate
  • Dekor, Dankie se geskenkies (lekkergoed sakkies), boutonierre badges, Troukoerantjies, gaste vingerafdruk boom, kousband, ring “kussing” boombas ring, konfetti, labels en tissues vir trane: Ianette self, als handgemaak
  • Handruiker (bruid): Fynbosch Flora
  • Hare :Melissa van Wyk
  • Make up: Melissa van Wyk
  • Konfetti: Gedroogde heideblommetjies
  • Koek Topper: Ladies & Gentleman Cake Toppers

 

Oor die bruidspaar:

  • Hoe en waar het julle ontmoet: Aanlyn 🙂 Ek glo die Here het ons met ‘n doel (op die wyse) bymekaar uitgebring. Beide van ons was in ernsitge verhoudings voorheen wat nie goed uitgewerk het nie, so ons was beide skepties aan die begin en wou dit maar net probeer, net bloot vriendskap gesoek. Met ons altwee wat voltydse werke het wat tydrowend was, en min tyd vir sosialiseer, was dit dalk ‘n beter opsie om ons vriendekringe uit te brei aangesien ons vriende beide reeds in verhoudings / getroud was en daar nie juis baie nuwe vriende bygekom het nie. Hoe ouer mens word hoe skraler raak die kans van vriendekringe wat uitbrei met enkellopendes tussenin. Nie ek of Werner is die tipe mense wat iemand in ‘n kroeg, klub of gym sou wou ontmoet nie. So het ons toe aan die gesels geraak aanlyn en uiteindelik vir ‘n “koffie date” ontmoet.
  • Hoe lank het julle mekaar geken: Ons eerste “date” was by Mugg en Bean in Junie 2013 en Werner het my gevra om te trou op 11 Oktober 2014. So ons is nou op ons troudag al net so bietjie meer as 2 jaar saam.
  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Ons was in die gewoonte daarvan om elke maand saam te vier en het beurte gemaak, al was dit net iets kleins as ‘n gedagte. So was dit toe sy beurt en hy het my uitgeneem vir middagete by dieselfde Mugg & Bean waar ons ontmoet het, daarna het ons gaan inkopies doen, so niks het dit verklap wat hy beplan het nie. Daarna is ons deur stad toe en hy sê toe dat my geskenk is ‘n lekker vollyf massering (ook by ‘n plekkie waarheen hy my al geneem het), daarna kan ons skemerkelkies gaan drink iewers en kyk om ietsie te eet. Werner was nog altyd romanties van aard met my, so dit was als vir my lekker bederf van sy kant af en steeds het ek niks vermoed nie. Later die middag toe ry ons in die stad rond en toe na ‘n hotel / apartement blok en hy sê hy het sommer gereël dat ons daar kan braai en rugby kyk dan kan ons bietjie langer in die stad kuier, aangesien ons nou daar is. Iets is toe vir my effe vreemd, maar maak toe niks verder daarvan nie. By die woonstel het ons toe ingestap, ek voor, en daar lê toe blokkies tissue papier op die vloer en hy sê ek moet dit volg, my hart het so vinnig geklop op daai stadium, toe weet ek hier is nou ‘n groot verrassing of iets! Dit het my gelei tot by die eerste cupcake wat sê “Sal”. So het ek elke ene moet soek tot ek almal gekry het. (Dit was die ougatste Minion gesiggie cupcakes met spraakborrels wat die groot vraag gevra het… “Sal jy met my trou?”) en in die kamer op die bed is ‘n Minion beertjie en die laaste cupcake met die ring in die Minion cupcake se mond. Natuurlik in ekstase het ek ja gesê.
  • Die troue (van a-z): Ek het nie kon indink hoe baie werk (maar baie pret) ‘n DIY troue kan wees nie. My wonderlike man het al die pad gehelp waar hy kon, al was dit net om goedjies uit te knip, rond te ry om goed op te tel of wat okal, was hy bereid om hand by te sit. Die dag voor die troue het ons die saal en kapel gaan opmaak en dit was tonne pret. Weereens het ons dit self gedoen met die hulp van ‘n paar goeie vriende! Die aand voor die troue het ons hele gevolg en ons metgeselle ‘n lekker boerewors roll braaitjie en drankies geniet, net om die feestelikheid sommer af te skop. Die oggend van die troue was die weer daar op Tulbagh perfek! Ek het sommer geweet die Here het ons werklik super geseën met die pragtige weer, nie te warm nie, maar glad nie koud nie. My “nerves” het bietjie begin inskop oppad kapel toe, en toe ek my ouers by die kapel buite sien kon ek nie die trane keer nie – dit was vir my die grootste oomblik van liefde wat ek al ooit beleef het – om die trots en liefde in my ouers se oë te kon sien. Ons seremonie was kort en kragtig en die preekboodskap was nommerpas – ons was ook so geseënd om die huweliksformulier en teks vir mekaar te kon voorlees en voordra. Al het die wind later ‘n bietjie opgekom, het dit gemaak vir stunning “anders” tipe fotos. Een van die baie spesiale oomblikke wat ons in kon deel is toe ons fotograaf, Liesl Basson, so oulikies haar selfoon uithaal en Photograph van Ed Sheeran speel en ons laat dans het in die middel van die pad wyl sy fotos neem. Die res van die aand se verrigtinge was amazing! Niks het verkeerd geloop nie, als was werklik perfek. Ons klein intieme troue van 42 mense was super spesiaal en ek sal niks anders wou doen of verander het nie. Ons kon saam met almal kuier, lekker gesels en lekker dans. Ons het ook weg getree van die tradisie van blomme en kousband gooi waar net “singles” kon deelneen en die ouer garde en ou getroudes ook deelgemaak daarvan. Dit was tonne pret en lekkerlag (na ek die blom 3 keer moes gooi, oor ek dit te ver gegooi het!). Opgesom was dit ‘n lekker troue, gedans tot ons voete seer was en gekuier saam met die mense wie ons liefhet en wie deel is van ons lewens al die pad. ‘n Groot rede hoekom ons op ‘n intieme troue belsuit het was dat mens wil elk geval hierdie dag deel saam met die mense wie jy wil hê moet jou aanspreeklik hou vir die belofte wat jy voor God gemaak het aan mekaar, dit moet nie net ‘n “show, kompetisie of voorgee” wees nie, die belangrikste is daardie belofte voor God in die teenwoordigheid van mense wie vir ons en Hom ook liefhet.
  • Raad vir toekomsige bruide: Klein intieme troues is super spesiaal vir verskeie redes. Dis nie net gesellig nie, maar mens kry kans om met almal te gesels en saam met almal ‘n kuiertjie te kan maak en fotos te neem. Ek was al so baie kere deel van groter en groot troues, en is nou nie vir ‘n oomblik spyt dat ons ‘n klein troue gehad het nie. Onthou ook, dis die bruid en bruidegom se dag, maak nie saak wat nie. As jul, soos ons, julle eie troue betaal kan mense nie aanstoot neem as hul nie genooi is nie (asook dan is julle troue julle sê en klaar, al klink dit nou kras), dis niks persoonliks nie, ons het bloot daarop besluit om eerder ‘n lekker wittebrood saam te hou en as mense mens ken en lief is vir julle sal hul verstaan. Mense begryp ook nie aldag dat enige troue (klein of groot) ‘n groot uitgawe is nie, want almal doen wat hul kan bekostig, maar mens eindig altyd op om meer te spandeer as wat jy beoog het. Wat wonderlik was is selfs mense wat nie by ons troue was nie het steeds vir ons geseën deur geskenke en geld en geskenkbewyse te gee, waarvoor ons so dankbaar is. Baie dankie aan hierdie spesiale mense ook! Dan ook, kies ‘n fotograaf wat julle persoonlike kan vasvang op film, duurder en meer bekend is nie noodwendig “die beste” nie.
  • Die beste deel van jul troudag: Sjoe, daar is ‘n hele paar goedjies wat ek kan opnoem. Ons was baie blessed deurdat niks regtig fout gegaan het nie. Vir my was die beste of eerder spesiaalste oomblikke toe my oupa die openings gebed vir ete gedoen het (hy is al in sy 80’s) en toe ons fotograaf tydens die fotos “Photograph – Ed Sheeran” gespeel het en ons gevra het om net daar in die pad te dans wyl sy fotos neem. Op daardie oomblik het dit gevoel ek sweef, in die arms van my man!
%d bloggers like this: