Jarike & Matthew {Plaas troue}

Persoonlike Inligting:

  •  Naam van Bruid: Jarike Slabbert
  • Naam Van Bruidegom: Matthew Paulsen
  • Datum en Tyd van troue: 2 Junie 2012, 16:00
  • Venue/plek van troue:Mnr & Mev Slabbert (Bruid se ouers) se plaas, Bethanie, Tsumeb/Nambibia
  • Aantal gaste:

 

Diensteverskaffer Inligting:

  • Trou Koordineerder: Self
  • Fotograaf: Jolandi Grundeling van Shalom Fotografie
  • Bruid se rok: Petrus van Amazing Designs, Walvisbaai
  • Dekor: Selma Slabbert (ma van die Bruid)
  • Koek: Marscha Scholtz – Tsumeb
  • Spyseniering:Selma Slabbert (ma van die Bruid)

 

Die troue (A-Z)

Ons dogter is getroud op 2 Junie 2012 op ons plaas , 40km buite Tsumeb in die noorde van Namibia.

Ons het 45 gaste (hoofsaaklik bruidspaar se vriende) gehad en ‘n pragtige plaastroue gehou.  Haar kleure was lilla pers, helder pienk en lemmetjie groen.
Haar  troue het vir ons slegs R 15 000.00 gekos, dit sluit haar trourok,blomme en troukoek in, maar nie die fotograaf nie.(hulle het self vir die fotograaf betaal)

Sy het die middag om 4 uur saam met haar pa op die “troukar” (trekker en sleepwa, gery deur ons plaasvoorman , die boesman Johannes) aangekom vanaf die grootpad tot by die tuin, waar al die stoele mooi uitgepak was, versier in wit en lilla pers.  Daar op die stoep, onder ‘n spitsdakkie, ook mooi versier met linte en organza, het haar aanstaande bruidegom gewag. Pa het haar afgegee en die diens is gedoen deur ‘n goeie vriendin van die bruidspaar. Na die seremonie, het die gaste oorgeskuif na ‘n ander grasperk toe, waar die tafels feestelik gedek was , alles in spierwit, met slegs spatsels pienk, lilla pers en lemmetjie groen. Ons het orals linte met hartjies en draadhartjies met blomme en kersies uit die bome laat hang, grasbale is uitgepak met ou wa wiele en kersliggies, lantertjies en feetjie liggies in die bome gespan en gehang. Ons het ook al die ou room en melkkanne gebruik met kunsblomme en groen loof vir bietjie kleur tussen in.
Op die tafels was blikemmertjies, elkeen met ‘n tafelnaam (soos droom, liefde, genade ens) en gevul met heerlike biltong, droewors en kaas strooitjies, asook heerlike pons wat die gaste solank kon geniet terwyl die bruidspaar eers gaan fotos neem het in die veld. Toe hulle terugkom by die onthaal area, is hulle met gedroogte , gekleurde doringboomsaadjies en roosblare gestrooi. Die bruidspaar het verkies om nie ‘n bruidstafel te he nie, en het sommer lekker gemaklik tussen vriende gesit en kort kort verskuif na ‘n ander tafel, so ook die ouer pare. Die hele troue was heerlik informeel en toesprake was beperk. Die gaste het gesmul aan lam op die spit gebraai met porbrode, verskillende konfyte en kase, daar was ook ‘n slaai.  Vir nagereg was daar heerlike gebakte poedings en vla. Daar is heerlik gedans op die stoep en lekker gekuier. Die troukoek was troukolwyntjies in verskillende geure, mooi versier met ‘n vlaggie op wat die geur aandui met die volgende woorde “I now pronounce you…….chocolate,vanilla, berry” ens. hierdie kolwyntjies is bedien in klein terracotta blompotjies wat self deur die moeder van die bruid geverf en versier is, en elke gas het dit as geskenkie ontvang met ‘n klein botteltjie tuisgemaakte blatjang en ‘n dankie kaartjie.

Dit was ‘n heerlike kuier en ontspanne troue wat nog lank onthou sal word en is ‘n bewys dat mens nie honderde duisende rande hoef te bestee om ‘n sprokiestroue te reel nie. Almal het dit geniet en kon nie uitgepraat raak oor hoe mooi en lekker alles was nie!

%d bloggers like this: