Jeannè & Theunis { Eg Afrikaans}

Persoonlike Inligting:

  • Naam van Bruid: Jeanné Higgs
  • Naam Van Bruidegom: Theunis Naudé
  • Datum en Tyd van troue: 6 Desember 2014 (17:00)
  • Venue/plek van troue: Voortrekkermonument (kapel) en onthaal by Fort Schanskop
  • Aantal gaste:110

Diensteverskaffer Inligting:

  • Trou Koordineerder: My baie kunstige en verbeeldingryke ma
  • Fotograaf: Jolene’s Photography
  • Bruid en bruidmeisie rokke: Self gedoen
  • Bruidegom en mans pakke: Smart Guy
  • Blomme : Self gedoen
  • Troukoek: My Niggie – Dedré Matthysen
  • Dekor: Self gedoen
  • Spyseniering: Corne’s Catering (Voortrekkermonument)

Oor die bruidspaar:

  • Hoe en waar het julle ontmoet: Ek en Theunis het mekaar ontmoet toe hy my gevra het om te wals by die dansskool waar ons albei “Ballroom en Latin American” dansklasse neem.
  • Hoe lank het julle mekaar geken: Theunis het my gevra om met hom te trou na ongeveer 2 jaar.
  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Verbeel jou die sonsondergang op Signal Hill (Kaapstad) en lekker aarbeie in sjokolade gedoop. Eweskielik gaan jou beste vriend op sy kniëe en vra jou om met hom te trou. Dit was baie spesiaal en ek sal nooit daardie oomblik vergeet nie.
  • Die troue (van a-z): Ons wou ‘n troue hê waar die gaste lekker dans, eet en kuier. Dit was presies hoe dit was. Die tema van ons troue was Eg Afrikaans en het dit goed na vore gebring met die volgende:

– Die Voortrekkermonument was die perfekte venue vir ons tema.

– My 3 ouma’s was die bruidsmeisies en oupa die bruidegom se tjom. Hulle uitrusting was die van ou volkspele.

– David Fritz van Mr Music het die ouma’s se gunsteling liedjies asook die troumars met sy konsertina gespeel. Hy het ook die gaste vermaak met ou FAK liedjies soos “Bobbejaan klim die berg” terwyl ons foto’s geneem het.

– Fynbos was gebruik as konfettie.

– Ouma se tuisgemaakte gemmerbier asook koeksisters, ystervarkies en biltong was bedien as voorgereg en iets te drinke terwyl ons foto’s geneem het.

– Daar was ook bokdrolspoeg, kettieskiet en ‘n “selfie stand” waarmee gaste hulself kon besig hou terwyl die foto’s geneem was.

– By die onthaal het ons ingedans met ‘n “choreographed” dans. En natuurlik was daar ook ‘n verassing…die volkspele groep wat kom optree het en ook die gaste betrek het met lekker tiekiedraai. Die volkspele groep het ook ‘n beesvel gehad waarmee hulle vir my en Theunis in die lug opgeskiet het (Dit was baie pret).

– Ons het nie die blomme of “garter” gegooi nie, maar het eerder dadelik die dansbaan geopen. Theunis het gemaak asof hy die “garter” afhaal terwyl ‘n lekker liedjie speel en het eerder my rok los gemaak en die boonste romp afgehaal. Ek het ‘n kort rokkie onderaan gehad. Ons het die dansbaan geopen met ‘n lekker JIVE.

– Die tafeldekor was verskillende antieke items bv. Tikmasjien, kombuisskaal, broodpanne, ossewaens ens. wat dan opgedollie was met verskillende soorte proteas.

– In plaas van sjampanje het ons melktertjies (shooters) gehad.

– Corne’s Catering het die lekkerste spitbraai, pap en sous en slaaie vir ons voorgesit asook meer as genoeg poeding.

Al moet ek dit self sê: “Dit was die lekkerste troue waarby ek al ooit was!”

  • Die beste deel van jul troudag: Ek dink die beste deel van ons troudag was, ons troudag! Alles was perfek!
%d bloggers like this: