Jolandi & Bester {Laventel}

Persoonlike Inligting:
• Naam van Bruid: Jolandi
• Naam van Bruidegom: Frans Bester
• Datum en Tyd van troue: 2 Mei 2015 om 15:30
• Venue/plek van troue: Berit Country Home & Chapel, Rustenburg, Noordwes
• Aantal gaste: 36

Diensteverskaffers se Inligting:
• Trou Koördineerder: Elmarie Botes
• Fotograaf: Simone Venter Photography
• Bruid en bruidmeisie rokke:
o Bruid: Dream Dress Wedding Boutique
o Bruidsmeisies: Gelique
• Bruidegom en strooijonker se pakke: Eie
• Blomme: The Flower Market, Mall @ Reds
• Dekor: Elmarie Botes
• Koek: Donsie Theunissen
• Spyseniering: Lauretta en Suné Maritz van Berit Country Home & Chapel

Oor die bruidspaar:
• Hoe en waar het julle ontmoet: Deur die bruidegom se ma.
• Hoe lank het julle mekaar geken: 2 en ‘n halwe jaar.
• Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom): Hy het van die begin van die troureëlings af baie sterk opinies gehad oor wat hy NIE wil hê nie. Met die res het hy ingeval by my besluite. Die ring was een van hulle….. Dié moes sus en so lyk en dit het toe so gelyk. Ons het my ring so 3 maande voor ons verlowing saam gekies. Hy het toe die ring in die kluis toegesluit. Ek het maar kort-kort geloer en gesien die ring lê steeds veilig op sy plek….. maar die groot vraag bly weg. Hy het heeltyd gesê hy sal ‘n oomblik kies waarop ek dit die minste gaan verwag! Ek was lateraan sommer vies vir die man wat so stadig was. Ons het in November 2014 met ‘n motorfiets rit Tzaneen toe gegaan. Ons het die een dag al die watervalle besoek. Die een waterval se naam was nogals “bridal veil” en daar het ek toe gedink iets sal gebeur…… maar toe gebeur niks! Ek het hom later daarvan vertel en hy het maar net lekker gelag en gesê hy het gesien ek wag vir “iets”.
Hy het my toe uiteindelik Oukersaand Desember 2014 tydens ‘n kamp saam met my ma en pa, broer, my dogter en sy seun gevra. (Beslis almal wat ‘n sê gehad het…). Hy het my regtig onkant gevang toe ek nou behoorlik op my “slegste” gelyk het! Pas gebad, sweetpak aan en geen grimering. Mos nie nodig om in die bos op te tof as ons om die kampvuur gaan sit en kersgeskenke uitdeel nie?! (My ma dink dis mos nou ware liefde ). Toe hy my vra was ek so verontwaardig omdat hy my vra terwyl ek so sleg gelyk het dat die kinders later almal geskree het “Nou wat is ma se antwoord?” Die arme Bester staan toe nog al die pad op sy knie. Om die “ja” antwoord te gee was so ‘n spesiale oomblik voor al ons geliefdes.

Die troue (van a-z):
• Hierdie was ons albei se tweede troue en ‘n mens sal dink wat is nou die “hoo haa” van ‘n tweede troue. Maar in hierdie geval was daar ‘n “hoo haa”. Ek het nie regtig ‘n behoorlike eerste “kerk” troue gehad nie en hierdie keer wou ek so graag in ‘n kerk of kapel trou en ook alles doen wat daarmee saamgaan. Bester was baie erg daaroor dat ons troue moes wees net soos ek dit so graag wou hê. Van die begin af het ons besluit ons tema gaan laventel wees omdat pers my gunsteling kleur is. Die gesoek vir idees was so lekker! Ek het ure gesit en wik en weeg. Mens sal verbaas wees oor hoeveel idees daar is vir laventel troues. Ek moes van party van my idees afsien omdat dit logisties moeilik was om alles na die trou venue te vervoer, maar dit was deur my of Elmarie vindingryk vervang met idees wat op die ou einde selfs beter uitgewerk het. Na die troue het Bester tong in die kies gesê my “trou lêer” gaan reguit asblik toe! Alhoewel hy deur die hele proses baie betrokke en geduldig was het hy bietjie genoeg van troureëlings gehad.
• Daar was net 36 “met die hand uitgesoekte gaste” wat naby familielede en intiemste vriende ingesluit het. Die troue was dus baie ontspanne en informeel. Almal het heerlik om die lang tafels gekuier en daar is gedans en gejol tot ounag toe. Lauretta se “lus vir die oog” kos het net daardie ekstra finesse gehad wat almal aan die praat gehad het. Een van die lekkerste lekkertes was dat die meeste van die gaste oorgeslaap het en ons kon dus die kuier uitrek tot na ontbyt die volgende oggend. Een en almal was dit eens dat dit die mooiste en lekkerste troue was waarby hulle al ooit was. My broer het so ewe na die tyd gesê ons het nou ‘n standaard gestel waarby geen ander troue vir hom sal kom nie. 

Raad vir toekomsige bruide:
• Delegeer! Delegeer! Delegeer! Dit was vir my moeilik om te delegeer omdat ek so puntenerig is.  Ek wou te veel goed self doen maar Bester het eenvoudig sy voet neergesit en gesê ons kry ‘n koördineerder. Hy ken my te goed. Op die dag van die troue was ek so bly dat ek alles in Elmarie se bekwame hande oorgelaat het. Sy het alles gedoen nes ek dit wou hê en beter.
• Moenie te veel idees probeer inkorporeer nie. Besluit op ‘n tema en hou daarby.

Die beste deel van jul troudag:
Daar is so baie “beste dele” dat ek eenvoudig almal sal moet noem:
(1) Toe ek die kapel op die troumars ingestap het na Bester toe. Die gedagte wat eerste by my opgekom het was…. Uiteindelik!
(2) My en Bester se kinders wat gedeel het in ons vreugde. Hulle was van die begin af so opgewonde en positief oor die troue.
(3) Ons troudag wat op my verjaarsdag was! Kyk net na die datum: (al die 2’s en 5’e: 2/5/2015). Die datum was lank voor die troue spesiaal so gekies. Bester sê dit maak dit makliker en goedkoper vir hom! Net een present.
(4) Om te sien hoe al ons idees bymekaar gekom het en hoe dit toe in die werklikheid gelyk het.
(5) My baas, wat nie net my baas is nie, maar ook ‘n baie dierbare vriend EN boonop ‘n dominee, het ons getrou. Sy ou volla “Boeta” was ook op die troue.

%d bloggers like this: