Klein Begroting: Dit is moontlik!

ee

Foto: Sparkle Photography

Om ‘n klein begroting te hê beteken nie noodwendig dat jy in die landros se kantoor moet trou nie. Inteendeel, dit kan ‘n groot avontuur wees! Al wat jy nodig het is ‘n tikseltjie inspirasie en sommer baie Trou Idees….

Die lewe is duur. Punt. Soms voel ‘n mens oorweldig deur alles wat die samelewing bied. Hoe hou mens by? Daar is lig aan die einde van die tonnel! Ek het ‘n lysie van wenke saamgestel wat moontlik jou beursie langer kan vol hou:

  • Daag jou strooimeisies uit
    Vergader met jou strooimeisies en deel met hul wat jou begroting is. Lig hul in oor wat jy in gedagte het en laat hul kwotasies soek. Indien hul so baie van uitdagings hou soos ek, kan dinge taamlik kompeterend word. Dit kan ook ‘n geleentheid wees vir kreatiewe idees. Iemand woon dalk op ‘n plaas en het ‘n pragtige agterplaas of stoor…
  • Doen-dit-self
    My absolute gunsteling! DIY is wonderlik omdat jy presies kry wat jy soek teen ‘n prys wat jou nie ‘n arm en ‘n been hoef te kos nie. Voorbeelde hiervan kan wissel. Hetsy dit die troukaartjie is wat jy deurmiddel van ‘n voorbeeld ontwerp het of jou ouma se leë konfytbottels wat op die tafels as dekor gaan dien. Ek is vir DIY solank dit stylvol gedoen word. Dit is belangrik dat jy lank voor die troue met jou DIY pogings begin. Sodoende laat jy genoeg ruimte om krisisse te hanteer. Stel bekwaamde familielede aan om jou te help. Dit haal baie druk van jou af en laat hul sommer spesiaal voel ook.
  • Soek en jy sal vind
    Die internet kan jou grootste maatjie wees. Hou verskaffers se bladsye dop. Bemarkingtegnieke sluit soms uitverkopings in. Jy kan dus bespaar indien jou oë en ore oop is. Heelwat kompetisies word ook gehardloop wat ‘n toekomstige bruid en bruidegom die kans gee om met lieflike pryse weg te stap. Vat die kans!
  • Die gastelys…
    Dit is glad nie ‘n lekker onderwerp nie, want almal op jou lys is belangrik en almal moet daar wees. Regtig? Hoeveel van die mense op jou lys het jy 6 maande terug gesien of selfs mee gepraat? Verwyder. Wees streng wat jou gastelys betref. Dit sal jou klaar ‘n paar rande bespaar.

Op party gebiede sal ek eerder meer betaal as op ander. Naamlik jou skoonheidsterapeut en fotograaf. Stel ‘n lysie op met jou prioriteite. Die belangrikste heelbo gelys. Dit sal waarskynlik die duurste wees.
Sterkte en onthou, dit is nooit te vroeg om te begin beplan nie.

 

Artikel geskryf deur Kobie van Rensburg