Lizelle & Kobus {ons droomdag}

Persoonlike Inligting:

  • Naam van Bruid: Lizelle (Kotzé) Kitching
  • Naam Van Bruidegom: Kobus Kitching
  • Datum en Tyd van troue: 22 Oktober 2015, 17h00
  • Venue/plek van troue: The Twelve Apostles Hotel & Spa, Kampsbaai
  • Aantal gaste:13

Diensteverskaffer Inligting:

  • Trou Koordineerder: Stephanie Hall, The Twelve Apostles Hotel & Spa
  • Fotograaf: Greg Lumley
  • Bruid en bruidmeisie rokke: Bruid se rok vanaf Lubellos Bridal; Bruidsmeise se rok deur bruidsmeisie self gekoop in Stockholm, Swede
  • Bruidegom en mans pakke: Bruidegom se pak vanaf Hilton Weiner. Geen strooijonkers.
  • Grimering & Hare: Chantelle Landman Make-up & Hair
  • Blomme: Duke & Duchess
  • Dekor: The Twelve Apostles Hotel & Spa; Cocky Creations
  • Koek: Wade’s Cakes
  • Spyseniering: The Twelve Apostles Hotel & Spa

Oor die bruidspaar:

  • Hoe en waar het julle ontmoet:
    “When we find someone whose weirdness is compatible with ours, we join up with them and fall into mutually satisfying weirdness and call it love, true love…”
    Kobus het homself op 22 April 2013 – my heel eerste dag by ‘n nuwe werk – voorgestel. Ek moes hom dan en wan help met sekere takies en het altyd ongelooflik skaam gevoel wanneer ek hom moes skakel vir informasie. Ek het gedink hy was oulik en ons het altyd skaam glimlaggies uitgedeel en langdurige oogkontak gehad wanneer ons stilweg by mekaar verbygestap het.
    Op Woensdag, 24 Julie 2013, het Kobus ingeloop in my kantoor met ‘n gevoude stukkie papier in sy hand… ‘n Handgeskrewe briefie aan my gerig. Ek was uit die veld geslaan! En dit so ewe nadat ek juis die aand vantevore op sy Facebook blad rondgeloer het (ons was nog nie “Facebook vriende op daardie stadium nie); na ‘n gewik en geweeg het ek daardie aand besluit om vir hom ‘n kort boodskap te stuur wat natuurlik in sy [Other folder] opgeindig het aangesien ons geen vriende in gemeen gehad het nie. Oeps. Ongelukkig was daar geen “Undo” knoppie nie! Ek wou myself skop! Vreemde toevalligheid – eienaardig en wonderlik – hoe dinge op die einde van die dag uitgedraai het…
    Ek het onmiddellik sy briefie beantwoord en dit senuweeagtig per hand afgelewer. Dit was die begin van ons briefie-uitruiling – wat tot vandag toe steeds voortgaan…  Kort voor lank was ons besig om land en sand te gesels en planne te maak om mekaar beter te leer ken. Na ons eerste “date” by Pretoria se dieretuin was ons onafskeidbaar en het alles sonder moeite in plek begin val…
  • Hoe lank het julle mekaar geken:
    Ons was dertien maande saam toe ons verloof geraak het; dertien maande later het ons getrou.
  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom):
    Dit was ‘n Donderdag, op ons dertiende maandelikse herdenking. Ek het geweet dat ons sou uitgaan vir ete (aangesien ons dit op die 4de van elke liewe maand gedoen het) maar was salig onbewus van die gebeure wat sou volg… Na werk het ons reguit huistoe gery en ek het oombliklik in die sitkamer gesit besig met iets op my selfoon toe Kobus my geroep het. Ek het sy stem gevolg, steeds half-besig op my selfoon, toe ek skielik sy ‘verrassing’ raakgesien het… ‘n Piekniek kombersie, smaakvol versier met eindelose rose, ‘n bottel sjampanje, twee glase, geklopte room, aarbeie in die vorm van ‘n hart uiteengesit en reg in die middel daarvan…’n laser-cut woord, LOVE, en ‘n oop Shimansky boksie met my droom ring!
    Ek was steeds besig om sprakeloos na die asemrowende handgemaakte Shimansky Evolym {die woorde “My Love” agterstevoor} diamant ring te staar, toe Kobus afgegaan het op een knie en en my gevra het om vir altyd aan sy sy te wees. Ek kon nie ophou om van oor tot oor te glimlag nie!
    Ons het ‘n mini piekniek in ons tuin gehad met die aarbeie, room en sjampanje voordat ons uitgegaan het vir aandete by een van ons gunsteling restaurante in Centurion (waar ons toevallig ook presies een jaar vantevore ons een-maand herdenking gevier het). Hul het ons per toeval by dieselfde tafel geplaas, waar daar die grootste bos blomme wat ek in my hele lewe gesien het vir my gewag het, tesame met kerse en sjampanje op ys. Alles in ag geneem, die begin van ‘n perfekte aandjie. ‘n Perfekte lewe.
  • Die troue (van a-z):
    Ons troue sou aanvanklik op 6 Februarie 2016 by Die Akker (naby Pretoria) plaasgevind het, maar na drama (en onbelangstelling) van naaste vriende en familie het ons besluit om alles te kanselleer en eerder rond te kyk vir moontlike “elopement” idees… Ek het toe The Twelve Apostles Hotel & Spa se webblad raakgeloop en was mal oor die idée van ‘n intieme destinasie troue (ons is woonagtig in Centurion – met geen gaste naby Kaapstad nie)!
    Ek het slegs een bruidsmeisie gehad, my jarelange Sweedse vriendin wie ek in 2008 via Facebook ontmoet het; sy het al die pad na Suid Afrika gekom (haar eerste keer!) om ons spesiale dag met ons te deel! Verder het ons gastelys net bestaan uit naaste familielede. Op die oggend van ons troudag het ek en my man saam met ons Sweedse gaste ‘n smaaklike ontbyt by die hotel se Azure Restaurant geniet, waarna die mans hul eie ding gedoen het. Ek het nie vir ‘n oomblik gestres oor enigiets nie en was die kalmte vanself, verbasend genoeg. Niks sou my onder kry nie. Die seremonie het buite in die hotel se Fynbos tuin onder ‘n gedrapeerde gazebo plaasgevind waar die Kaapse wind ons amper van ons voete af gewaai het (my skietgebedjies vir “geen reën” het darem gehelp!). Die uitsig van die Atlantiese Oseaan aan een kant en die majestueuse Twaalf Apostels bergreeks was onverbeterlik! Daar was fotos geneem en aan canapés gesmul waarna ons almal na die hotel se konservatorium gegaan het om aan te sit by ‘n lang tafel vir ‘n gesellige driegang maaltyd uit die boonste rakke. Dit was glad nie ‘n “gewone” troue met toesprake, ‘n seremoniemeester en ‘n dansery nie. Slegs my man (en bruidsmeisie, op die laaste nippertjie) het iets op die hart gehad om met almal te deel. Daar was agtergrond musiek, die heerlikste geregte op ons spyskaart asook ‘n variasie van tafelwyne. Ons het besluit op ‘n ‘naked cake’ met regte blomme as ons troukoek en almal het omtrent hul lippe afgelek! Op ‘n stadium het ons twee Sweedse gaste ons almal verbaas deur ‘n liedjie wat hul verpersoonlik het vir ons te sing (kompleet met kitaar wat hul by een van die hotel se werkers geleen het!) – sjoe, dit het ons almal se asems weggeslaan en ek kon nie help om ‘n traantjie te pik nie… Ons troudag was absolute perfeksie en ons sal nie een enkele dingetjie wou verander nie – elke liewe verwagting was oortref! ♡
  • Raad vir toekomsige bruide:
    Aanvaar dat jy nie almal gelukkig kan hou nie. En…baie belangrik, kies jou vriende reg!
  • Die beste deel van jul troudag:
    Daar is so baie dingetjies wat in my gedagte opkom… Maar die héél beste was verseker toe my bruidegom my vir die eerste keer raakgesien het… En toe my bruidsmeisie en haar kêrel vir ons ‘The Letter’ gesing het  (sien die video hier).