Marianne & Karel {DIY Strand Troue)

Persoonlike Inligting:

  • Naam van bruid: Marianne (Groenewald)
  • Naam van bruidegom: Karel Grobler
  • Datum en tyd van troue: 29 Desember 2012 om 17:00
  • Venue/plek van troue: Boesmanland Plaaskombuis, Langebaan, Weskus
  • Aantal gaste:  75

 

Diensverskaffers Inligitng:

  • Trou-koördineerder: Ons het alles self gereël met behulp van Jeanrie van Boesmanland Plaaskombuis.
  • Fotograaf: Maryke Rossouw
  • Bruid en bruidmeisie rokke: My trourok is by Bride&Co in Canal Walk gekoop en  my sussie se rok is van LTD.
  • Bruidegom en manspakke: Karel het sy eie chino, wit hemp en kruisbande gedra
  • Blomme: Die blomme is deur Function Flowers in Somerset- Wes en Ronel’s Bloemiste op Vredenburg verskaf en  ons het dit self in botteltjies gesit.
  • Dekor: Danksy TROU IDEES het ons self die dekor gedoen.  Die stoele vir die seremonie, tafeldoeke en servette is by Styled Functions in Bellville gehuur.
  • Koek: Smiling Oven in die Strand het die heerlike kaaskoeke gebak.
  • Spyseniering: Boesmanland Plaaskombuis het die HEERLIKE Weskus-kos voorberei en o.a. uit reuse-swartpotte bedien.

 

Oor die Bruidspaar: 

  • Hoe en waar het julle ontmoet? Karel is van Middelburg, Mpumalanga, en ek is van die Strand, Wes-Kaap. Vir 23 jaar het ons nie van mekaar se bestaan geweet nie totdat Jacobus, ’n hoërskoolvriend van my, voorstel dat ek vir Karel, ‘n vriend wat saam met hom op laerskool was, moet ontmoet. Ons het op 16 September 2011 d.m.v. BBM begin gesels en sou mekaar tydens die Desembervakansie ontmoet. Binne 2 weke was ons egter so verlief dat ons nie geweet het hoe ons dit het nie! Aan die einde van Oktober het hy my verras deur Kaap toe te vlieg. Hy moes binne 3 dae omtrent my hele familie en vriendekring ontmoet, want almal weet toe al van “Kêrel-Karel”. Om na ons eerste naweek saam te groet, was bitter erg. Na nog ‘n paar weke van verlange het ons die hele Desembervakansie saam deurgebring. Die afstand en die tekort aan geld vir vliegkaartjies het hoë eise aan ons verhouding begin stel …

 

  • Hoe lank het julle mekaar geken / Hoe en waar het hy jou gevra om te trou? Karel het amptelik ouers gevra en net 3 maande nadat ons begin uitgaan het, het hy my een naweek op hulle wildsplaas naby Groblersdal met die mooiste verloofring verras.

 

  • Die troue (van A – Z) Ons het ons droomdag by Boesmanland Plaaskombuis begin beplan en baie ongewone idees gehad oor hoe dit moet lyk. My familie en vriende en selfs Karel (al was hy ver) het gehelp waar hulle kon. My ma het my met ons troukaartjie en met die maak van die vlaggies gehelp. Saam het ons lap, kant en lint om draad-hartjies geknoop, blikbekers met windpomp-plakkers versier, ou boeke gekoop, glasbotteltjies versamel en na die regte trourok gesoek. Die maande het verbygevlieg en ons droom het ‘n werklikheid begin word toe ons die Vrydagmiddag met die wonderlike hulp van ‘n paar familielede, vriende en Jeanrie van Boesmanland die vlaggies ophang en tafels begin dek het. Ek kon skaars my oë glo, so mooi was dit! Ons 2 families het die aand voor die troue saam gebraai en ek & Karel moes vir die laaste keer groet voordat ek, my ma en sussie by Blue Water Bay gaan slaap het. Die volgende oggend na ontbyt het ons gou die blomme in botteltjies op die tafels gaan sit. Ons het rustig, maar vol vreugde en opgewondenheid klaargemaak – sonder senuwees of trane. Ek kon nie wag om Karel se vrou te wees nie! My broer het my, my ma en sussie in ‘n ou Landrover langs die see gaan aflaai en al ons hartsmense het toegekyk hoe my pa my aan Karel afgee. Die lied “In die hemel is die Heer” was treffend met die son op die see se blou en die gedruis van die branders op die agtergrond. Ds. Kobus se boodskap het ons voorberei om trou aan mekaar te beloof en te onderneem dat “wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ons is toegegooi met mooi wense en seëninge. Die onthaal was een groot fees met sjampanje uit blikbekers, kos uit ‘n regte plaaskombuis, Fifa & vriende wat ons toesing en ons asem laat wegslaan met ‘n spesiale doepa. Almal het heerlik saamgekuier en ons het ons gate uit geniet op die dansbaan en later ook onder die sterre langs die see! Die maande van verlange, hemelhoë telefoonrekenings en uitgeputte bankrekenings was skoon vergete en ons gee alle eer aan die Here deur wie se genade en voorsiening alles perfek uitgewerk het.

 

  • Raad vir toekomstige bruide: Moenie huiwer as jy weet dit is die regte man vir jou nie! Ons het baie kritiek verduur omdat ons so gou verloof geraak het en wou trou, maar ons het geweet die tyd is reg! Vertrou op die Here as dit soms voel asof dinge te moeilik raak. ’n Bybelversie wat my gedra het, is Jeremia 29:11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” GENIET ELKE OOMLIK van julle troudag!!! Baie mense het vir my gewaarsku dat die dag baie vinnig verbygaan. Ons is nou al 3 maande BAIE gelukkig getroud en ek droom en herleef nog elke dag ons spesiale dag!

 

  • Die beste deel van jul troudag: Vir my en Karel was die hele dag ‘n fees, maar as ons iets moet uitsonder, is dit toe ons ons troubeloftes afgelê het en mekaar kon soen – wettiglik as man en vrou – 1 jaar en 2 maande nadat ons begin uitgaan het.