Deesdae is sosiale media ’n onlosmaakbare deel van ons lewens. Soms skep die wanbalans van sosiale media teenoor ons regte lewe ongelukkigheid in verhoudings met ons familie, vriende, of selfs lewensmaat. Deursigtige, effektiewe, kommunikasie is natuurlik die eerste ding waaraan ons behoort te werk wanneer daar onenigheid in enige verhouding is. Elke mens is verskillend, en dit is naruurlik ook waar as dit by die gebruik, en verwagtinge wat ons van sosiale media het, kom. Jy voel dalk jy maak talle plasings oor jou lewensmaat, en hulle like, of herken dit nie eers nie. In plaas van onmiddelik jou eie gevolgtrekking te maak soos, “hulle hou nie van my nie”, of “hulle kry skaam vir my”, is dit dalk ’n goeie idee om introspeksie te doen oor hoekom hulle interaksie met jou sosiale media vir jou belangrik is, en dit dan te kommunikeer.
Hier is ’n paar riglyne wat jy kan volg om jou verhouding met sosiale media, en jou naastes, gesond te hou:
1. Moet nie direk nà ’n bakleiery, woordewisseling of ’n situasie waarin jy seer gekry het, na jou sosiale media toe hardloop en dààr gaan ontlaai nie.
2. Beperk die tyd wat jy aan sosiale media bestee. Stel ’n timer op jou foon, of gebruik 2 ’n kombuisklokkie.
3. Dink twee keer voordat jy ’n plasing op sosiale media maak.
4. Bepaal die rede waarom jy op sosiale media is.
5. Verwyder onnodige toepassings van jou foon/tablet af.
6. Wees krities selektief oor wie jy op sosiale media volg.
7. Moenie vergelyk nie. Deur jouself te vergelyk met ander sê verhoudings, lewens, en doelwitte steel jou geluk. Fokus op jouself, en onthou dat elkeen van ons ’n ander paadjie stap.
8. Wees real. Die plasings wat jy maak gaan oor jou lewe, opinie, en mense. Jy hoef nie iemand anders op sosiale media te wees nie.
9. Hou sosiale media uit die slaapkamer uit. Dit is jou en jou lewensmaat se tyd saam – benut julle tyd optimaal, en moenie heeltyd op jou foon wees nie.
10. Maak ’n punt daarvan om eerder direkte kontak met geliefdes te maak, soos oproepe, koffie-afsprake, of selfs ’n lekker lang e-pos as dit moet. As jy werklik wil wet hoe dit met iemand gaan, is sosiale media nie die beste plek om daardie verhouding te kweek nie.
Sosiale media skep ’n wonderlike platvorm om ou netwerk uit te brie, bemarkingsgeleenthede, besigheid te skep, kontak te hou met geliefdes wat vêr bly, en sommer net vir ’n kreatiewe uitlaring, maar moet verantwoordelik gebruik word. Gebruik sosiale media om jou lewe te deel en te verryk, maar moenie toe laat dat dit jou lewe definieër nie.
Lindie van Gass
