Trou Idees

HOE HET JULLE ONTMOET?

Ek en Carl het mekaar in Potchefstroom ontmoet by die Mystic Boer (‘n plek waarheen ons eintlik glad nie heen gaan). Ek het die vyftiende Januarie 2016 terug gekom van ‘n jaar in Nederland en hy het toevallig daardie selfde dag opgetrek van George af om ‘n nuwe begin aan te pak. Twee weke nadat ons albei in Potchefstroom aangekom het, het een van sy vriende ons aan mekaar voorgestel. Ek en ‘n vriendin was uit om te gaan Foozeball speel en sy vriend het gevra of hulle by ons kan kom aansluit. Carl was werklik moeg daardie aand en ek het weer vreeslik baie energie gehad! Ons het nie dadelik gekliek nie. Na ‘n paar aande se braai en saam kuier, het ons een aand lang ure gesit en gesels. Daar het ons besef dat ons dieselfde beginsels en waardes het.

HOE HET JULLE VERLOOF GERAAK?

Ons verlowing was klein bietjie ‘gat-kant-voor’. Ek en Carl het een middag vreeslik vasgesit en daarna net besef dat ons oneindig lief is vir mekaar en enige iets saam kan deurmaak. Ons het impulsief in die kar geklim en Sterns toe gery waar ons toe ‘n ring gekoop het. Daarna het ons direk by my ouerhuis gestop en die nuus aan hulle gebreek. Hulle was in die wolke daaroor!

WAT GENIET JUL OM SAAM TE DOEN?

‘Travel’! Ons geniet onbeplande avonture vreeslik! Ons wil nog die wêreld gaan saam sien en soveel herinneringe moontlik maak as wat ons kan.

WATTER ADVIES HET JULLE VIR VERLOOFDES?

Doen kursusse om julle kommunikasie te verbeter! Ek sal ook enige paartjie aanraai om saam te bly voor die huwelik, jy leer onsettend baie van mekaar (slaap in aparte kamers as dit moet).

WAT WENS JULLE HET JUL GEWEET VOOR DIE TROUE?

Besef net dat nie almal wat jy gedink het daar vir jou is of gaan wees, die rol gaan speel wat jy noodwendig vir hulle in hulle lewens sal of wel speel nie. Die wat wel doen, koester hulle, want julle gaan nog n lang pad saam stap!

WAT WAS VIR JULLE DIE HOOGTEPUNT VAN JULLE TROUDAG?

Die samesyn saam ons familie en vriende – ons het n klein en intieme troue gehad.

WATTER EIENSKAPPE HOU JY DIE MEESTE VAN IN JOU MAAT

Carl sê: Haar lag, liefde vir elke lewende wese, haar passie, deursettingsvermoë, om mee te begin…

Elsje sê: Sy saggeaardheid, omgee, onvoorwaardelike liefde en ondersteuning deur elke hoofstuk in my en ons lewens.

Trou Idees