Trou Idees

VIP Cakes South Africa

 

Xhosa koek!

Die klient het het my gevra om n tradisionele troukoek te bak wat uniek is aan die Xhosa nasie en genoem dat hul tradisie ook vereis dat die bruid en bruidegom se ouers elkeen ook ‘n koek as geskenk moet kry wat deel vorm van die hoof koek.  Ek het die drie hutte voorgestel waarvan die grootste een die huwelikspaar voorstel en die twee kleiner hutte vir die ouers wat eintlik dan ‘n eenheid van die twee families voorstel in die “Village” met die putu pap pot, hoender en vee. Sy het my ingelig oor watter geur elkeen se voorkeur is.  Die troue was by die Fancourt Hotel in George gehou. Die gaste was gaande oor die unieke idee van ‘n buitengewone tradisionele troukoek en dit was behoorlik die hoogtepunt van die onthaal!

Bietjie raad oor koek bedien by die onthaal: 

‘n Troukoek is altyd een van die hoogtepunte by enige troue en dit hang gewoonlik af van die paartjie of hulle die koek as nagereg wil bedien of huistoe wil neem.  Die hoeveelheid gaste speel dan ook ‘n belangrike rol in die besluit.  Ek stel voor nadat die paartjie die eerste sny gedoen het, dat die sny van die koek aan die spyseniers oorgelaat word indien die gaste daarvan gaan eet.  Die koek word dan weggeneem en opgesny in die kombuis van waar dit dan opgedien word, terwyl die bruidspaar dan dans of hulself geniet.  Meeste paartjies bedien ‘n goeie nagereg, sodat die troukoek met hul naaste familie/vriende gedeel kan word na die troue.  

Oor myself:

My naam is Theresa van der Hoven  en ek het in 2012 ‘n hele klompie dekor items vir troues by ‘n vriendin gekry om uit te verhuur en sale te drapeer en op te maak.  Ek het met die intrapslag ‘n troue beplanner geword en dit vreeslik geniet om deel te wees van paartjies se groot dag. 

Op ‘n dag het een van my bruide wat binne 2 weke sou trou my in ‘n toestand gekontak en meegedeel dat die bakster wat haar troukoek sou bak haar in die steek gelaat het en  dat sy niemand kon vind om haar troukoek te bak nie.  Die hele troue was reeds gereel en betaal.  Ek het haar gerusgestel en gevra dat sy dit in my hande moet los. Ek het baksters gekontak, maar niemand kon help nie.  Ek sit toe met my hande in my hare en bid:  “Here, hoe moeilik kan dit wees om ‘n troukoek te bak?”  Op daardie stadium kon ek nie eers ‘n sponskoek bak nie! Maar ek was vasberade en vol inspirasie om die bruid te help. Min het ek geweet dat sy ‘n vier laag vrugtekoek met handgemaakte suikerblomme wil hê!  Ek het toe ‘n paar Youtube video “tutorials” gekyk wat my geweldig gehelp het en met die hulp van die Here het ek die troukoek gebak!  Ek was nog tot op die einde so op my senuwees om die suikerblommetjies as finale afronding op die koek te plaas en  het my man gevra om te help met die plasings! 

Ek het teruggestaan en die koek beskou in verbasing en net besef dat ek dit nie sonder my Skepper sou kon doen nie!  Die bruidspaar was gaande oor die koek en net daar, so uit die bloute en onbeplan, het my koek besigheid afgeskop. Ek geniet dit vandag steeds om kreatief te wees en nuwe uitdagings aan te pak vir alle spesiale geleentheidskoeke. Ek dink baie mense het verskuilde talente wat uitroep na geleenthede om hulself te wys as ons net sal waag om in ons innerlikke vermoë te glo! 

Elkeen van my koek-skeppings is uniek en vertel ‘n unieke storie en hulle is natuurlik ook smullekker, of so vertel my kliente my! 

VIP Cakes South Africa: www.facebook.com/vipcakessouthafrica

Theresa: 079 277 683

Trou Idees