Trou Idees

HOE HET JULLE ONTMOET?

Ulrich en ek het ontmoet tydens ’n Desembervakansie, deur my broer CJ, wat toe 14 was en ons was albei 16. Ulrich en CJ was albei op Marlow in Cradock, en van die eerste aand wat ons ontmoet het, het ons net gekliek. Ulrich het daardie eerste aand al geweet dat hy eendag met my gaan trou. Ons het op ’n paar afsprake gegaan, maar omdat hy in Cradock was, het ons vir ’n tyd lank ’n langafstandverhouding gehad. Ek het elke geleentheid gebruik om oor naweke te gaan kuier, en hy het ook geen busrit na Port Elizabeth gemis as hy die kans gehad het nie. Na vier maande se vriendskap het hy my uiteindelik uitgevra, en ons verhouding het toe amptelik begin. Ons is ’n tipiese “high school sweetheart”-kliché, en dit maak ons storie vir ons net soveel meer spesiaal!

HOE HET JULLE VERLOOF GERAAK?

Ulrich het vir my gesê ek moet mooi aantrek, want ons gaan saam met ons vriende by Ziggy’s Restaurant by die see eet. Maar toe ons daar aankom, was die restaurant blykbaar “vol bespreek” omdat daar ook daardie aand rugby was. (Ek het gou agtergekom iets is verdag, want daar was eintlik min mense in die restaurant!) Terwyl ons gewag het vir ’n tafel, het ons besluit om na die strand af te stap – my gunsteling plek. En toe, met die klank van die golwe in die agtergrond, het hy op een knie gegaan en my gevra om met hom te trou. Dit was ’n pragtige en onvergeetlike oomblik, vol betekenis en liefde.

WAT GENIET JULLE OM SAAM TE DOEN?

Ons hou daarvan om saam op hikes te gaan en om met die honde te gaan stap, veral by die see waar ons almal dit geniet. Een keer ’n week hou ons ook ’n date night – sommer by die huis. Dan maak ons ’n lekker snack platter, skink ’n glasie wyn en bier, en kyk ’n fliek of speel ’n bordspeletjie saam. Dit is die eenvoudige, spesiale oomblikke wat ons na aan mekaar bring en ons verhouding so sterk maak.

WAT IS JOU GUNSTELING EIENSKAP IN JOU VERLOOFDE?

My gunsteling ding van Ulrich is hoe kalm hy altyd is. Ek is geneig om ’n bietjie meer angstig te wees, en hy het net ’n manier om my altyd te kalmeer en te troos. Hy is ongelooflik liefdevol en beskermend – hy doen alles in sy vermoë om my veilig en gelukkig te hou. Boonop is hy ’n wonderlike luisteraar, wat geduldig na my luister, selfs as ek baie praat! Hy het ook die beste sin vir humor en ’n lekker terg-gees, so daar gaan nie ’n dag verby sonder dat hy my laat lag nie. Hy is ook romanties, en dis die klein gebare wat vir my die meeste beteken – soos om ná ’n lang dag vir my ’n warm bad met kersies en bubble bath te tap sonder dat ek eens hoef te vra- hy weet net.

My gunsteling eienskap van Mieke is dat sy genoeg plek het in haar hart vir almal. Sy is ongelooflik emosioneel intelligent en verstaan mense op ‘n manier wat min mense kan. Maak nie saak wie dit is nie, sy sal altyd die eerste een wees wat probeer help. Sy is ongelooflik ondersteunend ek weet ek kan altyd op haar staatmaak. Haar groot hart, haar lojale aard, en haar pragtige blou oë maak my elke dag dankbaar om haar aan my sy te hê.

WIE SE HUWELIK IS VIR JULLE 'N GOEIE VOORBEELD?

Blake Lively en Ryan Reynolds se huwelik is vir ons ’n groot inspirasie. Hulle het ‘n verhouding vol humor, opregtheid en respek, en hulle hou mekaar se hand deur dik en dun. Hulle wys dat dit moontlik is om diep verlief en toegewyd te wees, terwyl hulle ook ’n balans hou tussen gesin, werk en persoonlike passies. Ons hoop om ook so ‘n gemaklike en ondersteunende verhouding te hê, waarin ons mekaar se beste vriend en grootste ondersteuner kan wees, met ’n goeie dosis humor daarby!

Ring: 
Fotograaf: Lens Liefde Fotografie