Trou Idees

O’ Koek! Kyk hier!

O, Koek! Mensturasie Koppie

Die C-vorm vou of 7-vorm vou, silikoon of rubber, sag of ferm. Hierdie is net ‘n paar van die woorde wat meer en meer begin kopuitsteek het die laaste tyd. Maar waaroor gaan dit? Mense is aant gons oor menstruasie koppies – ‘n alternatiewe, meer ekonomiese en eko-vriendelike menstruasie produk.

Menstruasie koppies bestaan al vir jare. In 1937 het Amerikaanse aktrise Leona Chalmers die eerste werklike bruikbare menstruasie koppie geontwerp en gepatenteer. Nuwerwetse menstruasie koppies is klokvormig, sommige met ‘n steeltjie, en word hoofsaaklik vervaardig van medisinale-graad silikoon. Die koppie vang bloed op in plaas daarvan om dit te absorbeer soos tampons en doekies. Koppies is beskikbaar in verskillende groottes afhangende van die lengte van jou serviks en of jy al geboorte geskenk het of nie. Dit kan van 8 tot 12 ure aaneen gedra word en na elke siklus moet dit gesteriliseer word. In Suid-Afrika is daar ‘n paar handelsmerke beskikbaar insluitend O! Koek!, My Own Cup, PrincessD, Sofia, Baobabe, FloAngel, Pink Cup, ens.

Menstruasie koppies hou tussen 3 en 5 jaar, is aansienlik meer ekonomies as tampons en doekies, en is natuurlik beter vir Moeder Aarde. Kom ons doen ‘n sommetjie. Die gemiddelde persoon gebruik 20 tampons in ‘n 5-dag siklus, ongeveer 240 tampons per jaar. 32 tampons se koste beloop: R56 (Handelsmerk A) / R45 (Handelsmerk B) / R49 (Handelsmerk C) = gemiddeld van R50 = R1.56 per tampon. 20 tampons is dus = R31.20, 12 maande: 240 tampons = R374.40. Oor 5 jaar: 1,200 tampons = R1,872. Dit teenoor ‘n eenmalige bedrag van tussen R200 en R400 vir ‘n menstruasie koppie beteken dat jy meer as R1,400 kan spaar.

Ons antwoord ‘n paar vrae oor menstruasie koppies hieronder. Indien jy enige ander vrae het, stuur dit gerus deur.

Hoe kies mens die regte grootte menstruasie koppie?

Dis belangrik om die regte koppie grootte te kies om lekkasie te voorkom en om seker te maak die koppie sit gemaklik. Elke handelsmerk se instruksies vir grootte bepaling verskil, maar oor die algemeen is dit raadsaam om te bepaal hoe vêr jou serviks van jou vaginale opening is. Neem een of twee vingers, nes dit vir jou gemaklik is, en plaas dit binne jou vagina totdat jy jou serviks kan voel met die punte. Trek dan jou vinger/s uit en meet die diepte wat dit ingegaan het met ‘n maatband. Kies jou ideale koppie grootte deur na die hoogte te kyk.

Hoe sit mens ‘n menstruasie koppie in?

As jy ‘n menstruasie koppie vou sal jy sien hy is min of meer dieselfde grootte as ‘n tampon. Wanneer jy jou koppie insit, begin deur jou hande deeglik te was, daarna vou jy jou koppie, plaas hom gemaklik binne jou vagina en laat hom natuurlik oopvou. Draai hom effe tot hy gemaklik sit en ‘n vakuum vorm.

Daar is 3 welbekende vou maniere: die C-vorm vou, 7-vorm vou en die knyp-vou

1. C-vorm vou: Druk die kante van die koppie saam en vou hom dan in die helfte om die vorm van die letter C te maak.

2. 7-vorm vou: Druk die kante van die koppie saam en vou die punt regs-bo na links-onder sodat die koppie die vorm van die nommer 7 maak.

3. Knyp-vou: Druk die een kant van die koppie na binne, en daarna druk jy die kante saam.

Probeer almal en kies die een wat vir jou die beste werk.

Om jou koppie uit te haal, begin weer deur jou hande deeglik te was, ontspan op die toilet en vind die bodem van jou koppie met jou vingers, trek saggies aan die steeltjie as dit help. Knyp die bodem om die vakuum te breek en maak dan die koppie in die toilet leeg.

Hoe lank kan ‘n menstruasie koppie gedra word?

Dit verskil van een na die ander, maar oor die algemeen kan menstruasie koppies tot en met 12 uur aaneen gedra word. Jou vloei sal bepaal hoe gereeld jy hom moet uitspoel. Jy kan snags met gemak met jou koppie slaap en hom die volgende oggend uitspoel.

Hoe lank hou ‘n menstruasie koppie?

Raadpleeg die handelsmerk wat jy koop, maar oor die algemeen kan medisinale graad silikoon vir tot 5 jaar hou as jy jou koppie mooi oppas en skoon hou. Indien jou koppie kraak of taai raak, is dit tyd vir ‘n nuwe een.

Hoe hou mens ‘n menstruasie koppie skoon?

Gedurende jou siklus kan jy jou koppie net met water uitspoel. Na elke siklus (en die eerste keer as jy jou nuwe koppie oopmaak) moet jy jou koppie steriliseer. Herhaal die steriliseringsproses indien jou koppie perongeluk op die vloer of in die toilet val.

Daar is hoofsaaklik 3 metodes vir sterilisering.

1. Steriliseerders: Sommige handelsmerke soos O! Koek! en PrincessD verskaf ‘n silikoon steriliseerder saam met jou menstruasie koppie. Plaas jou koppie binne die steriliseerder, maak hom halfpad vol met water en mikrogolf vir 3 minute of lank genoeg vir die water om te kook. Moenie die dekseltjie opsit nie.

2. In ‘n potjie op die stoof: Sit jou menstruasie koppie binne ‘n potjie op die stoof en kook hom vir 3 minute of langer. Hou jou oë op die potjie dat die water nie droogkook nie, anders sal dit jou koppie beskadig. Sommige mense gebruik ‘n eier klitser en sit hul koppie binne-in en dan binne die potjie om hom van die bodem af te hou.

3. Steriliseringsprodukte 

Sommige handelsmerke soos My Own Cup en Roodt vervaardig spuitmiddels of oplosbare poeiers wat gebruik kan word om jou koppie te steriliseer.

Kan ‘n menstruasie koppie gebruik word as ‘n maagd? Jy kan ‘n menstruasie koppie begin gebruik vanaf die oomblik wat jy begin menstrueer, of jy seksueel aktief is of nie. Wees wel bewus dat as jy enigiets in jou vagina insit kan dit jou maagdevlies rek of selfs skeur.

Kan ‘n menstruasie koppie gedra word gedurende seks? Nee, menstruasie koppies behoort slegs gebruik te word tydens jou menstruasie siklus en nie as voorbehoedmiddel nie.

Kan ‘n menstruasie koppie binne die vagina vassit of verdwyn? Menstruasie koppies kan nie binne jou verdwyn nie, maar dit kan wel bietjie hoog opbeweeg binne jou vagina. As jy sukkel om jou koppie uit te kry is die eerste stap om diep asem te haal en te ontspan. Om angstig en paniekerig te raak gaan net veroorsaak dat jou spiere meer gespanne raak. Terwyl jy op die toilet is kan jy probeer om jou abdominale spiere te gebruik om die koppie af te druk.

Alternatiewelik kan jy probeer om voor die toilet ‘n tipiese “squat” posisie in te neem. As jou vingers die steeltjie in die hande kan kry, trek liggies daaraan. Wanneer die koppie self in beter bereik is, knyp die bodem om die vakuum te breek en trek dan die koppie uit.

O! Koek! gee ‘n spesiale 10% afslag aan alle Trou Idees lesers met die koop van ‘n menstruasie koppie en steriliseerder. Gebruik kode Tr0u!d3es10 by okoek.com. Geldig tot 31 Mei 2021.

Trou Idees