Trou Idees

Ons is getroud, wat nou?

Wat kom na die troue?

Die troue en die wittebrood is verby – jy en jou man is in julle huis en die onbekende lê voor…

In my geval het absoluut niks fisies verander (behalwe my van) na die troue nie, maar emosioneel het SO baie verander. Ek en my man was reeds jare saam – van skool af – en ook al amper 2 jaar verloof voordat ons die knoop deurgehaak het, ons het ook al ‘n hele paar jaar saamgebly voor ons troue MAAR niks berei jou voor vir die emosionele verandering wat hierdie een dag op jou het nie.

Hierdie is wel net my persoonlike ervaring en geensins gebasseer op enige teorieë of bewyse nie.

Die “ou mense” sê altyd die eerste jaar is die moeilikste jaar van ‘n huwelik – ek het altyd gedink ja sure as jy dan eers saam inttrek, want dit is ‘n baie groot aanpassing, maar ek het nooit gedink dat  dit ook die geval sou wees al bly ons al 5+ jaar saam nie. Groot was my verbasing toe ons die dag wat ons teruggekeer van wittebrood af die grootste bakleiery in seker amper 2 jaar gehad het waar my man sommer die “skei”-woordjie ingegooi het.

Sjoe, wat ‘n skok! Net daar het ek besef dat hierdie “ou mense” nie jok nie. Iets was anders, iets het verander vandat ons die grootste wetlike en geloofsbelofte ooit gemaak het, MAAR HOEKOM? Is dit die idee van ‘viraltyd’ wat ons bang maak – al was ons al amper 10 jaar mekaar se alles – of gaan dit oor die verwagtinge van wat na ‘n huwelik kom?

Ek is nou op daardie ouderdom in my lewe waar almal om my verloof is, trou, swanger raak of baba’s kry en die “pressure” is hoog. My bloed het sommer gekook toe ek kommentaar op ons 1ste huweliksherdenking post op Facebook kry van “Hoekom is daar nog nie ‘n pienkvoet oppad nie?”.

Hoe kan mense in hierdie tyd nogsteeds sulke vrae vra as daar alreeds so baie bewusmaking is oor onvrugbaarheid en al die struikelblokke wat daarmee gepaard gaan. My eintlike punt is dat dit BAIE druk op ‘n mens se huwelik plaas wanneer dit reeds ‘n nuwe fase is om by aan te pas…

SO… Hoe hou jy jou huwelik gelukkig vir die res van julle lewens? Want sjoe, dit klink darem maar na ‘n lang tyd en baie sakke sout!!

Ek hou van hierdie sewe maklike doenbare tips…

Maak seker jy is verbaal positief – gee ‘n kompliment wanneer daar een is om te gee.

My man is ‘n regte softy en daardie ego kry baie lekker wanneer ek hom vertel hy is die sexyste man op aarde net so voel ek wonderlik wanneer my man vir my sê ek lyk mooi. Al gebeur dit ‘n 1 000 keer in die eerste jaar van jou huwelik raak dit nooit oud nie.

Fisiese aanraking.

Om aan mekaar te raak en menslike aanranking te voel stel endorfiene vry in jou brein wat jou laat goed en positief voel – hoe meer jy van dit kry hoe beter voel jy. Alhoewel ek nie dink jy het nog ‘n rede nodig om bietjie vatterig te raak nie, maar dit behou ook die intimiteit en spesiale band in julle huwelik wat keer dat jy nie na ‘n paar voel jy lewe saam jou boetie of ‘n kamermaat nie.

Sien eerder die positief as die negatief.

Dit is maklik om jou man te blameer vir alles wat fout gaan in die huwelik en as jy aan redes dink is dit ook maklik genoeg om met “aanvaarbare” redes vorendag te kom hoekom hy die blaam moet vat, MAAR fokus eerder op die 80% van jou man se eienskappe wat jou nie teen die mure uitdryf nie. Dit gaan keer dat jou man nie 24/7 voel of jy hom probeer verander nie – en ons almal weet hoe daardie situasie uitdraai.

Vat genoeg tyd om jouself gelukkig te hou.

Dit sluit aan by ‘n vorige onderwerp waar ek genoem het “You cannot pour from an empty cup.” Hoe gelukkiger jy is, hoe gelukkiger is jou huwelik en hoe meer geluk kan jy in jou huwelik insit.

Ek en my man sukkel nogal met hierdie een want ek sny negatiewe gedagtes en gebeurtenisse baie vining uit in my lewe, hy aan die anderkant trek negatiwiteit soos ‘n magneet na hom toe. Hy hoor gereeld “Hou net op om so negatief te wees” uit my mond uit!!

Baklei regverdig.

Bly weg van afbrekende kritiek, ‘name-calling’ en onverwante verskille – hier verwys ek na daai “ou koeie in die sloot”. Stap eerder weg, kalmeer en praat later. Ek verstaan – “easier said than done”, maar probeer is die beste geweer.

Onthou: Verskille is nie die teken van ‘n ongesonde huwelik nie, inteendeel dis gesond vir twee mense om van mekaar te verskil – dit gaan oor hoe julle hierdie verskille oplos.

Kies die regte tyd om te baklei.

Nee, voor julle vriende, familie of na ‘n paar glasies is nie die regte tyd nie. Maak intensioneel tyd om onverdeelde ‘one-on-one’ gesprekke te hê – veral wanneer dit nie oor ‘nitty-gritty’ verskille gaan nie. Wees seker daar is ‘n manier om uit die situasie te kom – bv. wanneer jy voel jy moet eers af ‘n bietjie afkoel voor ongevraagde kommentaar gelewer word en verder vet op die vuur gooi – dus, ‘n gesprek in die kar is nie die beste opsie nie.

Laaste, maar nie die minste nie…

Leer om te luister.

Hierdie is verseker die moeilikste maar belangrikste ding om te doen. Leer om te luister sonder om te reageer – sonder om ‘n reaksie te vorm in jou gedagtes, wees net teenwoordig en verseker jou lewensmaat dat dit ‘n veilige plek is om te praat sonder oordeel.

Bou voort op julle huwelik – daar is ‘n rede hoekom julle besluit het om te trou. Deesdae is skei net te maklik.

“When a light bulb goes out – you don’t buy a new house, you fix the bulb”

Geskryf deur: C.S. – Net nog ‘n hopelose romantikus!

Trou Idees