Trou Idees

Troudag-wenke van ‘n professionele seremoniemeester

Jeandré Venter het meer as tien jaar se ervaring as Seremoniemeester in die troubedryf en is ook ’n gesoute MC van spesiale geleenthede of korporatiewe funksies. Hy het al diep spore in baie bruidspare se lewens getrap. Na tien jaar is dit steeds vir hom ’n passie en ’n voorreg om by troues op te tree en troupaartjies se spesiale dag een vir die boeke te maak. Jeandré is bekend as ’n staatmaker en lewer ’n merkwaardige bydrae daartoe om die troudag ’n groot sukses te maak. Ons het by Jeandré gaan inloer om uit te vind wat se wenke hy het om uit te deel, en van sy jarelange ervaring te leer.

BEPLANNING
Beplanning is een van die belangrikste aspekte van jou troudag. Hierdie is altyd ’n vraag wat huwelikspare vra en dis belangrik om so veel as moontlik tyd uit te koop vir julle groot dag. Een jaar voor die tyd is altyd ’n gemaklike beplanningstydperk sonder spanning of druk. Agt maande is goed, maar jy sal verskaffers so gou as moontlik moet vasmaak. Ses maande is stresvol, en jy sal bereid moet wees om jou eerste keuse verskaffers prys te gee. Drie maande voor die tyd moet jy jou storie ken, en verskaffers boek wat beskikbaar is. Een maand voor die tyd moet jy maar verlof insit, hard werk, en uitdagings hanteer.

WEES GEORGANISEERD
’n Georganiseerde huwelikspaar kan verseker wees van ’n suksesvolle troudag. Daar gaan bitter baie beplanning in so spesiale dag in! Dinge soos ’n fotolys, ordereëlings, koek, ringe, lapelruikers,geskenkies, klere vir die gevolg ens.

TROUTRADISIES
Daar is ’n groot tendens om weg te breek van tradisie, en dit is bitter opwindend om te sien hoe kreatief paartjies deesdae kan raak. Doen wat julle graag wil doen – dis julle groot dag en julle voorreg. Los die kousband as jy ongemaklik voel, bedien die koek waar jy ookal wil, spring in die water saam jou lewensmaat, eet uit blare, gooi  hondepille vir konfetti as jy so voel – geniet net jou dag ten volle!

MANNE, KOOP IN BY JOU TROUDAG
Dis so lekker om te sien hoe bruidegomme deesdae inkoop op hulle troudag en die dag saam geniet! Neem deel aan die foto’s, doen iets spesiaal vir jou bruid, maak saam reëlings en besprekings, woon verskaffers se vergaderings by, spandeer alleen-tyd saam jou bruid, en gesels oor die dag. Dis bitter belangrik om te onthou jou troudag gaan nie net oor jou bachelor-partytjie nie – jou vriende moet dit respekteer en jou tyd gun saam jou vrou, familie en ander vriende.

OGGENDPROGRAM
Bruide, jou oggendprogram is net so belangrik soos jou troudagprogram. Die oggendprogram met hare, grimering, aantrek, klaarmaak, ensovoorts, het ’n invloed op die
bruidsmeisies en die bruid se gemoed vir die res van die dag. Maak seker julle laat sowat 40-minute tot ’n uur toe vir algemene foto’s, rustig wees, bid, toesprake, ensovoorts.

GROOT GEJAAG
Wees voorbereid vir die groot gejaag! Ek kan hierdie nie méér beklemtoon nie. Daar is niks in die wêreld wat so vinnig verbyjaag soos jou troudag nie. Wees ingestel op elke minuut van jou dag. Dit is propvol, en daar is baie dinge wat op spesifieke tye moet gebeur. Wees voorbereid, en beplan jou dag sorgvuldig sodat jy die volle potensiaal uit jou troudag kan put. Waak byvoorbeeld daarteen om te veel tyd saam een groep te spandeer, of om saam jou gaste parkeerarea toe te stap om hulle af te sien – dit neem kosbare tyd in beslag.

HOU JOU GASTE BESIG
In vandag se tyd het trougaste ’n verwagting vir vermaak wanneer hulle by ’n troue opdaag. Hulle wil heeltyd besig gehou word. Hou jou troudag interessant en wees kreatief om jou gaste besig te hou regdeur die aand.

MUSIEK BY CANAPÉS
Hierdie is ’n moet! Onthou altyd dat musiek stimuleer (al is dit net in die agtergrond). Skep die heeltyd ’n gesellige atmosfeer met musiek en onthou al die areas waar daai ongemaklike stiltes is, en vul dit met musiek – ringe aansit, register teken, uitstap na die seremonie, wag vir konfetti, canapé-area, instap by die onthaal, gedurende ’n skyfievertoning, terwyl gaste opskep, terwyl almal eet, ensovoorts.

SNY KOSTES
Hierdie is ’n lekker debateerbare onderwerp met kontroversiële opinies. Baie paartjies wil nie afsteek by ander troues nie, en vergelyk hulle troues met vorige troues. Die gevolg hiervan is dat die dankie-sê-geskenke groter raak, en die koeke al hoe hoër. Raak rustig, en sny kostes op dinge wat gaste nie noodwendig waardeer nie.

MA SÊ, PA SÊ, TROU IS ’N LEKKER DING
Onthou – jou ouers het reeds hulle troue gehad, en alhoewel hulle finansieel bydra tot julle groot dag, beteken dit nie hulle kan dit oorneem nie. Dit bly julle spesiale dag, en julle doen wat julle wil. Ai, mens sien dit so baie waar ouers paartjies forseer om gaste (ouers se vriende) te nooi, of dekor te plaas waarvan die ouers hou en nie die paartjie nie, of instapliedjies kies waarvan die ouers hou, of besluite beïnvloed, ensovoorts. Vra jou ouers vir raad, en wees ontvanklik daarvoor om insette te ontvang, maar julle mag maar kies waarvan julle hou!

BEDANK JOU VERSKAFFERS
Hierdie is iets wat so baie paartjies as vanselfsprekend aanvaar, aangesien hulle die verskaffers betaal. Hierdie mense is die hartklop van jou troudag en werk lang ure om die sukses van jou dag te verseker. Behandel hulle met respek en bedank hulle gedurende julle toesprake.

DANS TOT DIE SON OPKOM
Gaste geniet dit altyd om te sien die huwelikspaar geniet hulle eie troudag. Ons sien dit dikwels wanneer die pasgetroudes saam met hulle gaste dans. Dis my voorstel dat paartjies ten minste die eerste vyf liedjies saam met gaste op die dansvloer spandeer direk nadat die dansvloer geopen is. Dit skep ’n atmosfeer van vermaak, en laat die gaste ook gemaklik voel. Dans soveel en solank as wat julle kan!

JOU TROUDAG IS OPWINDEND
Dis dié lekkerste en belangrikste dag van jou huwelik! Dit skep ’n gevoel van eenheid en liefde – geniet die dag saam mekaar en saam met die mense wat jy liefhet!

Trougroete,
Jeandré Venter

Leave a Comment

ons gevorderde soek-enjin