In vandag se tyd kan die lewe maklik na ’n gejaag voel. Jy weet nie waar om te vat of te los nie, en dan voel dinge sommer vinnig deurmekaar. As jou huis in orde is, en
sisteme in plek het, sal dit die dag-tot-dag takie sbaie makliker maak. Haal asem. Skep moed. Hier is ’n paar stappe om jou huis in orde te kry.
1. Moet nie dadelik hals-oor-kop winkels toe hardloop en ’n klomp houers, bokse en kratte koop nie. Dit is baie belangrik om eers jou goed uit te sorteer, en wat onnodig is weg te gooi, sodat jy kan sien watse tiepe houers, bokse of kratte jy wel nodig het. Die kanse is groot dat jy reeds iets het wat jy kan gebruik!
2. Om die uitsorteer-proses so maklik as moontlik te maak, vat dinge area-vir-area sodat dit nie oorweldigend raak nie. Maak drie hopies: wat wil jy hou; wat wil jy weg gee/ verkoop; wat gooi jy uit. Dit is baie makliker om ontslae te raak van items wat jy nie gebruik nie, as wat dit is om plek te probeer maak vir ’n wit olifant wat nie ’n doel dien nie.
3. Nou dat jy weet wat jy wil hou, identifiseer wat jy op ’n daaglikse, weeklikse, maadelikse of jaarlikse basis gebruik. Hoe gereeld jy iets gebruik bepaal hoe jy dit gaan weg pak. Probeer om net die items wat jy elke dag gebruik “oop” te hê waar jy dit kan sien. Bêre enigiets anders in ’n laai of ’n kas. As jou oppervlaktes minder clutter het, sal alles sommer netjieser voel.
4. Wanneer jy by die huis kom en jou skoene uit skop, bêre dit dadelik in die kas, gooi vuil klere dadelik in die wasmandjie, en bêre jou handsak op sy plek. Sodoende sny dit die loop-en-op-tel tyd uit, en alles is reeds gebêre.
5. Moenie wag tot jou huis in chaos is voor jy begin uitsorteer en skoon maak nie. Doen elke dag klein goedjies om jou huis netjies te hou. Volg die een-vir-een reël. Vir elke een item wat jy in jou huis in bring, moet een uit. As jy jouself bederf met ’n mooi travel mug, raak dadelik ontslae van een wat lek, of nie meer werk nie – moenie net dit tot agter in die kas skuif nie.
Volg hierdie lekker uitdaging om jou huis in orde te kry – maak dit vir jouself lekker, en binnekort sal jy sien, skoon maak is nie ’n straf nie.





Yskas & Spenskas
Begin deur om alles uit te gooi wat reeds verval het. (Dit is nie nodig om 20 verskillende brand souse te hê nie, hou net die bestes.)
Tupperkas
Maak seker elke bakkie het ’n deksel. Daar is niks wat mens met 15 verlore deksels kan doen nie.
Laaie
Gaan deur jou laaie en declutter. Tensy jy die volgende Masterchef is, is dit regtig nie nodig om 14 eierspane te hê nie.
Koffie Koppies
Hierdie is ’n item wat so maklik kan kleintjies kry, met elke spesiale geleentheid is ’n mooi koppie so ’n maklike geskenk. Hou net dié met regte sentimentele waarde en waaruit jy werklik drink. Laat die res gaan.





’n Mens se kamer moet jou toevlug wees, waar jy rus en herlaai vir die nuwe dag, Maak dit ’n area waar jy kan ontspan, en nie een waarvan jy wil vlug nie.
Klere & Skoene
Tensy jy nie besig is met ’n drastiese leefstyl verandering nie, raak ontslae van daai “eendag gaan dit my weer pas”-hopie. Daar is soveel oulike Destash groepe -jy kan dalk selfs ’n paar Rand maak deur klere uit te gooi.
Kouse & Onderklere
As daar ’n gat in is wat nie reg gemaak kan word nie, of dit het nie meer ’n maat het nie, moet dit gaan.
Skoonheidsprodukte
Al daai lekker rome en lyfwas produkte het ’n rak-leeftyd. Die nommer op die bottel verwys na hoeveel maande dit veilig is om te gebruik vanaf dit oop gemaak is. As die produk verval het, gooi dit uit.
Bedkassie
Jou bedkassie moet nie soos die toring van Babel lyk nie. Sorteer dit uit en vereenvoudig wat jy daarop hou, sodat dit skoon, netjies en prakties is.





Medikasie Stasie
Maak al die medisyne wat in die huis rond lê bymekaar, en sorteer en groepeer dit. Só is dit baie makliker om kop te hou van wat jy het, en waarvoor dit gebruik moet word.
Linne Kas
Pak die beddegoed weg as ’n volledige stel. As dit tyd is om beddegoed te ruil hoef jy nie rond te krap vir kussingslope wat bymekaar pas, of die regte paslaken nie, want alles is reeds by mekaar.
Belangrike Dokumente
Kry ’n leêr of ’n boks, en bere al die belangrike items soos ID’s, Paspoorte, Kontrakte, Toestelle se waarborge, ensovoorts by mekaar.
Jou Voertuig
Haal al die gemors uit jou voertuig uit! Al die strooitjie papiertjies, ekstra pare skoene, leë kosblikke, en selfs die ou gebruikte maskers.
Die Ruk-dit-reg Uitdaging is maar net ’n begin punt. Soos jy deur elke area beweeg, sal jy sien watse groot verskil dit werklik maak om elke dag iets klein aan te pak en netjies te maak. Van uit stel kom af stel, so, vat dit dag-vir-dag, en moet nie probeer om die alles reg te pak ’n halfuur voor die skoonfamilie kom kuier nie. Maak werk van jou weg gee/verkoop hopie, enmoet nie laat dit net nog ’n boks in die garage word nie. Jy het dit! Sterkte!
Leeflik